My Response to the legislation.

I apologize for not having this in English but the original letter was in Afrikaans. I will get it translated as soon as possible.

If you want to respond to the reasons or my statement please use the form provided under Contact Us. No abusive language or personal assaults will be published.

                                                                                                            

Geagte Mnr Van Deventer

 

Ek skryf graag aan u alhoewel ek vermoed dat die skrywe nie juis iets kan verander nie, maar is daar by my ‘n paar kwelvrae en punte wat ek graag wil uitgelig. Ek jag nie meer in die Wes-Kaap nie, het al voorheen daar gejag en het ook verskeie boere daar opgelei in die beheer van probleem diere. So die wetgewing sal my as persoon nie werklik beinvloed nie maar dra ek die boere en jagters se belange op die hart.

 

Ek stel myself graag eers bekend sodat u op hoogte is van my bedrywighede en ondervinding. My naam is Heinrich Funck en is ek in die probleemdier bedryf en spesifiek rooi jakkalse en rooikatte vir die afgelope 17 jaar (sedert 1991). Ek het in 1995 dit professioneel begin doen en is vandag nog daarmee besig. Ek het ongeveer in elke gedeelte van Suid Afrika jakkalse gejag van sover as Dullstoom in die noord-ooste tot Oos Londen in die suid-ooste en van Van Zyls Rus in die noord weste tot by Ceres, Clanwilliam, Touws Rivier en Barrydale in die Suid Weste. Ek het meer as 3000 boere en jagters (ek kan die name tel om die korrekte syfer daar te stel) in die roep en skietmetode opgelei en het ek rekord van elke persoon met naam adres en telefoon nommer. Ek is dan ook deur die Vrystaat Departement van Omgewings Sake geakrediteer as opleier in die provinsie in die roep en skiet metode.

 

My vroegste waarneming was dat waar kleinvee boere en jakkalse (rooikatte in ‘n mindere mate) saam in ‘n area voorkom daar probleme is. Dit was ook glad nie tot een gebied beperk nie. Oor die onkunde van die loopgebied, sosiale gedrag, vang en vreetmetodes van die rooijakkals, was ek egter die meeste verbaas. Soveel van bygelowe kon geen mens glo nie. My grootste poging was om die boere op te lei in die regte identifiseering van watter dier die skade veroorsaak het en dan om die betrokke probleemdier op te spoor en te elimineer.

 

So het ek na die eerste jaar gevind dat die Kaapse Vos vir so ‘n klein persentasie van verliese verantwoordelik is, dat dit maar in enkele gevalle voorgekom en maklik vasgestel kon word. Ek het die boere probeer oortuig om die werklike probleem, wat gewoonlik die rooijakkals was, dood te maak. So het ek dan ook ‘n paar jaar gelede in die SA Wild en Jag, ‘n jagter wat ‘n artikel oor die jag van die Kaapse Vos in die tydskrif geplaas het, in die tydskrif aangevat oor die verkondiging van die roep en skiet van die Kaapse Vos. Die dier is so kwesbaar tov die roep en skiet metode dat die dier totaal uitgewis kan word.

 

Die rede oor die bekendstelling en inleiding is om aan te toon dat die meeste van ons bewarings bewus is en die natuur en lewe respekteer en ook graag ‘n balans wil sien.

 

Ek is dankbaar vir u stelling “ons 'n groot verantwoordelikheid het teenoor die omgewing om verlies aan biodiversiteit te bestuur, sowel as 'n verantwoordelikheid teenoor grondeienaars om toe te sien dat hulle nog beheer kan toepas en 'n bestaan voer.”  

 

 U maak die volgende stellings: 1) om beheermetodes wat nie selektief en menslik is nie, te verwyder. 2) Die oormatige doodmaak van groot getalle rooijakkalse en rooikatte deur veral nagskiet, het 'n groot impak op hierdie diere se sosiale gedrag en veroorsaak dat hulle getalle toeneem om hierdie vakuum te vul. 3) Verder word hulle verhoed om normale territoriale gedrag uit te voer en territoriums af te baken. 4) Dit veroorsaak oormatige aanteel en gepaardgaande vee verliese. 5) Die oomblik as hierdie diere se sosiale gedrag toegelaat word om in werking te tree, dryf hulle vreemdes van hul gebiede weg en onder druk aanteel. Kleiner getalle roofdiere kom dan op eiendomme voor en gepaardgaande is die veeverliese minder. 6) Ons moes drastiese stappe in plek stel om die oormatige doodmaak van hierdie diere te reguleer. Dit is ons morele plig as bewaringsliggaam.

 

Ek wil graag my ondervinding met u deel ivm die spesifieke punte soos deur u genoem:

 

Punt 1: ) om beheermetodes wat nie selektief en menslik is nie, te verwyder.

Hierdie punt is seker al tot vervelens toe geopper en aangehaal en word daar gewoonlik na slagysters en honde verwys wat nou onverklaarbaar ook roep en skiet insluit. Slagysters kan met die regte opleiding en lok-aas spesie spesifiek gemaak word veral as daar met urine en mis gestel word. Dit is menslik aanvaarbaar dat muisvalletjies in huise gestel kan word maar dit mag nie deur boere gebruik word om jakkalse en rooikatte te vang nie. Praat van dubbele standaarde. Slagysters kan met ‘n klein bietjie moeite verander word in ‘n “leghold device” met ‘n “offset and laminated jaw”. Opgeleide pak honde vang ook nie nie-teiken diere nie. Daar word gefokus op gewoonlik twee spesies nl. die rooijakkals en rooikat.

 

Die mees selektiefste metode roep en skiet word deur u geklasifiseer as eerstens onselektief en dan seker ook as nie menslik. Dit is werklik onverstaanbaar. Elke persoon wat dit professioneel doen het van die beste teleskope om te verseker dat die dier eers geïdentifiseer word voor die sneller gedruk word. ‘n Meer selektiewe metode kan ek nie beskryf nie. Onmenslik kan ek ook nie insien nie. Jag is ‘n aanvaarde praktyk wêreldwyd en gemeet aan daardie standaard kan dit geensins as onmenslik beskryf word nie.

 

Punt 2: “Die oormatige doodmaak van groot getalle rooijakkalse en rooikatte deur veral nagskiet, het 'n groot impak op hierdie diere se sosiale gedrag en veroorsaak dat hulle getalle toeneem om hierdie vakuum te vul.”

Kleinvee boere het van die vroegste tyd reeds jakkalse en rooikatte doodgemaak en was dit ook geproklameerde probleemdiere. Op daardie stadium was die vakuum reeds geskep en teel die jakkals sedert daardie tyd om die vakuum te vul. Met die tot stand koming van wildplase en natuurreservate, waar geen beheer toegepas word nie het die jakkals en rooikat ‘n goeie vastrap plek gekry waar hulle in veiligheid kan aanteel en dan na die vakuum gebiede versprei. Professionele persone (prokureurs, dokters besigheids persone en buitelanders) het plase aangeskaf , en waar geen beheer toegepas word nie het dit ook ‘n veilige hawe vir die diere gebied waar hulle kon aanteel en verder versprei.

 

Ek het dit in die 13 jaar herhaaldelik gesien dat waar ‘n wildplaas of “naweek-boer” nuut gevestig word en geen beheer op die plaas vir ‘n tydperk van 2 jaar of langer gedoen is nie die gebied wemel van veral rooijakkalse. Ek het op vele sulke plase gejag. Nasionale Reservate soos byvoorbeld die Tankwa Natuur Reservaat is ook ‘n baie goeie voorbeeld hiervan. Met verskeie besoeke aan boere in die Ceres Karoo het ons gevind dat die grootste saamtrek of plek waar jakkalse voorkom gewoonlik om die reservaat of soortgelyke gebied is. ‘n Ander goeie voorbeeld is Alkan Pan in die Prieska area wat deur die staat as missiel toetsbaan gebruik word. Dit is werklik skrikwekkend om te sien hoeveel jakkalse in so ‘n gebied voorkom. Ek het dit ook gevind by boere om die Willem Pretorius Wildtuin naby Windburg/Ventersburg.

 

Die mooiste voorbeeld daarvan op die stadium is in Philippolis waar ek woonagtig is. Die “Save the South China Tiger Foundation” het ongeveer 8 jaar gelede in Philippolis ‘n aantal plase uitgekoop ongeveer 22 000 ha in die Vrystaat kant en ongeveer 15 000ha in die Noord – Kaap kant, van die Gariep rivier. Daar was geen jag op die plase toegelaat nie. Die situasie het so ondraaglik vir die omliggende boere geword weens die lam verliese dat daar ‘n ooreenkoms met die eienaars aangegaan is dat ek kon ingaan net om die getalle te verlaag. Voorheen was dit kleinvee boerdery area en het ek die verskillende boere bedien. Baie min jakkalse is daar geskiet en was die getalle intoom gehou, hetsy deur roep en skiet of slagyster.

 

Ek het byvoorbeeld binne 4 ure in Maart 2008 op twee staanplekke 12 jakkalse geskiet waarvan daar 10 kleintjies was en slegs twee grotes. Op die een plek was 7 kleintjies en op die ander plek 3 kleintjies. Ek het verder na die binnekant van die reservaat, nog jakkalse gehoor wat daarop dui dat daar nog ‘n aantal families voorkom. Die personeel van die reservaat het ook aan my bevestig dat hulle verskeie kere jakkalse in die dag sien rond hardloop, wat selde of ooit gesien was voor die oorskakeling. Dan is die ewige lewenslange probleem daar waar sekere boere beheer toepas en van hulle bure dit glad nie doen nie.

 

Die vraag wat ek dan graag wil vra is, wat se druk word op die jakkalse in die parke of gebiede geplaas dat hulle so aanteel, op hulle word nie gejag nie, behalwe op die paar individue wat dit op die boere se grond waag? Om u stelling te ondersteun moet ons dan meer jakkalse vind op plase waar gejag word as op plekke waar nie gejag word nie!

 

Die verklaring wat ek het is heel eenvoudig: Indien daar  gebiede is waar jakkalse voorkom en gebiede waar geen jakkalse voorkom nie sal die jakkalse aanteel en versprei om die gebiede te vul. Solank daar genoegsame kos en water is, is dit tot voordeel van die jakkals. Die aantal kleintjies wat gebore word is groter aangesien meer voedsel voorkom en hulle makliker kan oorleef en die feit dat die jakkalse geen natuurlike vyande het in kleinvee gebiede nie, is slegs tot voordeel van die jakkals.

Dus is dit my beskeie mening dat dit nie die jag van jakkalse is wat die aanwas van jakkalse laat vermeerder nie, die vakuum bestaan reeds van die vroegste tye af en is dit die gebrek aan jag in sekere gebiede wat die drastiese toename in jakkals getalle veroorsaak. ‘n Vinnige berekening van 4 jakkalse in ‘n gebied kan gedoen word:

  • Jaar 1: 2 pare x 5 kleintjies = 10 kleintjies + 4 = 14 in totaal.
  • Jaar 2: 7 pare x 5 kleintjies = 35 + 14 = 49.
  • Jaar 3: 24 pare x 5 kleintjies = 120 + 49 = 169 in totaal en dit van slegs 4 jakkalse.

 

Die argument word gewoonlik geopper dat jakkalse nie van so ‘n vroeë ouderdom sal teel nie en dat hulle nie soveel kleintjies kry nie. Ek kan aan u foto’s stuur wat bg kan bewys en sien ek dit jaarliks, waar tefies jonger as ‘n jaar dragtig is en dat werpsel grootte gemiddeld 5-6 is. Daarvoor het ek ook ‘n verduideliking. Met vakuum gebiede (onthou asb. dit bestaan reeds en word nie nou gevorm deur jag op jakkalse nie) is daar gewoonlik geen ouer jakkalse nie en die jong jakkalse vorm van vroeg af pare en kom die jong tefies op hitte wat dan deur die reuns gedek word. Met genoegsame kos (lammers) en water is die kondisie van die tewe goed en kry hulle van nature meer kleintjies en is dit nie moeilik om die kleintjies groot te maak nie.

 

Punt 3: “Verder word hulle verhoed om normale territoriale gedrag uit te voer en territoriums af te baken.”

Dit is interresant dat u so ‘n stelling maak. Die eerste ding wat ‘n jakkals doen is om ‘n gebied te soek en dan sy merk daar te los. Veral as hy of sy geen tekens van jakkalse of ander jakkalse in die gebied vind nie. Dit is die basiese en normale territoriale gedrag van ‘n jakkals. Die moeilikste jakkals om in ‘n gebied te dood is gewoonlik ‘n nie territoriale jakkals. Hy reageer glad nie positief op enige jakkals klanke nie en beweeg gewoonlik weg.

 

Word ‘n territoriale jakkals of jakkals paar gedood is daar gewoonlik ‘n volgende jakkals of jakkals paar op die lys wat daar sal inbeweeg, veral as die gebied ‘n uitstekende kenmerkende jakkals gebied is. Vra maar enige van die ouer boere. Hulle sal sê waar die laaste jakkals gedood is en waar die eertse een weer ingetrek het. Jakkalse het voorkeur gebiede en word jaar na jaar in daardie gebied gevind. Al word die jakkals paar gedood, trek daar maar net weer ‘n nuwe paar in die voorkeur gebied in.

 

Ek werk sedert 1999 met ‘n GPS en is dit werklik insiggewend om te sien in watter areas jakkalse jaar na jaar voorkom. Hoe minder die jakkalse is hoe groter is die territoriums en hoe meer die jakkalse hoe kleiner en hier praat ek spesifiek van die kern gebiede. Ek het in 1999-2000 by ‘n boer tussen Britstown en Strydenburg begin jag. Die plaas is ongeveer 50 000 ha groot. Ek het langs die Brak rivier, wat deur sy plaas loop, elke 1.5 km ‘n stel jakkalse gevind. Na amper 8 jaar word jakkalse nou ongeveer elke 6 km gevind. Die kliënt se verliese het dramaties afgeneem en die aantal jakkalse per jaar gedood het ook dramaties afgeneem. Ongelukkig het die boer “professionele” bure wat geen beheer toepas nie en is daar jaarliks ‘n toevloei van jakkalse oud en jonk na sy grond. Ek het al by een van die bure ‘n rooikat wyfie met twee kleintjies bo-op ‘n lam gevind maar stel hulle nie belang in enige beheer nie. Vir boere wat ander inkomste het, waarvan hulle leef, is die bonus inkomste van selfs 50% lammers genoeg maar kan geen bona fide boer sulke verliese bekostig nie.

 

Punt 4) “Dit veroorsaak oormatige aanteel en gepaardgaande veeverliese.”

Ek aanvaar dat die verduideliking van die oormatige aanteel breedvoerig genoeg in die vorige punte behandel is. Oor veeverliese word daar baie geredeneer en dan word ook gesê dat boere die kleinwild uitwis en dit die rede is hoekom jakkalse hulle dan na lammers wend.

 

Op die genoemde plaas van 50 000 ha het Mnr Rob Harrison-White, wat tans te Madikwe Natuur Reservaat navorsing op jakkalse doen, my vergesel en het ons die

jakkalse wat daar gedood is ongeveer 21 jakkalse in totaal, se maaginhoude ondersoek. Daar is gevind dat 85% maw. (18) skaapvleis gevreet het, 10% (2) het steenbok en haas gevreet (maw natuurlike prooi) en 1 het niks in gehad nie. Die betrokke boer jag self nie, laat nie kleinwild of hase op sy plaas jag nie en laat hy geen werker toe om ‘n hond te besit nie. Die betrokke plaas het ook meer as 1500 springbokke. ‘n Meer gebalanseerde deel kan mens nie voor vra nie maar bly die bogenoemde feite staan van die maaginhoude. Afleidings sonder feite en op emosie gegrond word gou gemaak en word beskuldigings sonder reg na veral boere en jagters gegooi.

 

Volgens navorsing deur Furguson WJH in 1978 gedoen is die volgende jag resultate gevind: Tabel 21: Jag-doeltreffendheid van rooijakkalse in die Kalahari Gemsbok Park

 

 

Prooidiere                  Aantal pogings          Getal suksesvol        % Sukses

Springhase                  54                                24                                44

Rotte en Muise            88                                49                                56(gelys as 64)

Voëls                           25                                5                                  20

 

In bogenoemde wetenskaplike studie is bevind dat die rooijakkals minder as 1 uit elke twee keer, springhase vang en ongeveer 1 uit elke twee keer, muise of rotte vang. Dit is ‘n baie lae sukses ratio. Met lammers in oorvloed en die minste energie wat uitgelê word om die jakkals se honger te stil of die kleintjies te voer is dit vanselfspreekend dat hulle op lammers sal jagmaak. Die sukses ratio is 100%.

Dit is my beskeie mening dat bogenoemde bevinding van die jag-doeltreffendheid ons bevinding net bevestig dat die jakkalse lammers sal verkies bo die sogenaamde natuurlike prooi.

 

5) “Die oomblik as hierdie diere se sosiale gedrag toegelaat word om in werking te tree, dryf hulle vreemdes van hul gebiede weg en onderdruk aanteel. Kleiner getalle roofdiere kom dan op eiendomme voor en gepaardgaande is die veeverliese minder.”

Indien u redenasie water hou, sal dit net die spesifieke dominante paar wees wat skade in ‘n area veroorsaak want hulle dryf dan die ander weg. So behoort ons geen onskuldige roofdiere te dood nie. Boere kry oor die algemeen nie ‘n professionele jagter net om jakkalse dood te maak nie. Hulle het oor die algemeen wesenlike skade voor hulle die jagter inkry.

 

Ongelukkig kan ek nie met u saamstem nie en is dit seker een van die grootste leuens wat deur sogenaamde geleerde mense as feite versprei word. Ek verwys graag weer na die Furguson navorsing en wel na die oorvleulende gebiede en sluit dit hierby in ter insae. Die deel van die navorsing is gedoen te Suikerbos Natuur Reservaat.

Hier word duidelik getoon dat verskeie jong jakkalse oor die gebiede van ander dominante jakkalse beweeg. In die geval van jakkals nommer 23, beweeg die spesifieke jakkals oor die gebiede van dominante jakkals gebiede nr 24, 16 en 18. Dit kan nie ‘n jonge van al drie pare wees nie en moet dan ‘n vreemde wees van ten minste twee pare.

 

Alle jakkalse in die gebied is ook nie gemonitor nie en behoort daar nog veel meer sulke oorvleuelings te wees. In ‘n interresante program deur Wolhuter genaamd “Black Jack High Stakes” wys dit wat gebeur as dominante jakkalse wel jong jakkalse raakloop. Die jonger jakkalse neem onmiddelik ‘n onderdanige houding in en die groot jakkalse aanvaar dit en laat dit staan of karnuffel die onderdanige jakkals om hom te laat wie baas is. Die eenvoudige rede - te veel energie sal spandeer word om al wat ‘n jakkals is weg te probeer drywe en dit sonder sukses. Daar bly ook nog van die vorige jaar se werpsel agter om te help met die grootmaak van die nuwe span kleintjies wat nog ‘n groter kans op oorlewing bied. Die helpers kom wel nie op hitte nie. So uit die wetenskaplike navorsing wil dit voorkom of daar meer as net die dominante paar in ‘n gebied sal wees wat dan radikaal van u stelling verskil en behoort veeverliese nie sodanig minder te wees soos wat deur u beweer word nie.

 

6) “Ons moes drastiese stappe in plek stel om die oormatige doodmaak van hierdie diere te reguleer. Dit is ons morele plig as bewaringsliggaam. Daarom sal daar nou moet aansoek gedoen word vir permitte om hierdie aksies uit te voer.”

 

Die eerste vraag is of dit die oormatige doodmaak van diere is of is dit die oormatige aanteel van diere in gebiede waar nie beheer toegepas word nie wat nou sulke groot afmetings aanneem dat daar sulke groot getalle gedood word.? Graag wil ek ook die sogenaamde groot getalle in perspektief plaas. Eerstens sal u merk dat die getalle in veral Oktober begin toeneem tot einde Maart. Dit is wanneer die kleintjies by teelgate is en wanneer hulle begin rondloop en versprei.

 

 Ek wil weer die 50 000 ha plaas as voorbeeld gebruik. Ek het op een aand 19 jakkalse geskiet gedurende Maart. Dit was drie stelle, van die eerste stel het ek die reun, teef en 8 jonges geskiet. Die tweede stel het ek die teef en vier jonges geskiet en die derde stel kon ek slegs die 4 jonges. Indien dit voor Oktober was sou ek slegs 6 jakkalse maksimum kon skiet. Weereens was hierdie deel teen bure wat geen beheer toepas nie. Die grootste satisfaksie van die spesifieke jag was dat, waar die kliënt vervangings ooitjies verloor het, hy vir ‘n hele jaar nie een lam in die spesifieke area verloor het nie.

 

 

Ek het by ‘n ander kliënt gedurende Augustus maand 5 tewe en 2 reuns geskiet. Die tewe was dragtig met 21 kleintjies. In effek het ek 28 jakkalse gedood en het die vee verliese drasties verlaag en so ook die aanteel van die jakkalse. Die groot hoeveelhede wat geskiet word is slegs seisonaal en word dit nie jaarliks herhaal nie. Indien in die winter, maw paartyd gejag word is die aanteel soveel minder. Ek het byvoorbeeld in Junie 2008 by ‘n kliënt gejag en 10 jakkalse gedood. Dit was ‘n astronomiese aantal vir daardie tyd van die jaar. Ses was op sy grond geskiet en 4 het van sy bure gekom. Met my besoek verlede week is slegs twee jakkalse gevind en albei het van sy een buurman se kant gekom. Indien daar nie gedurende die winter gejag was nie kon ek maklik 5 pare elk met 5 kleintjies geskiet het. Dit sou die getal weer op 35 te staan laat kom het. Is dit dan nou die jag wat hulle so laat aanteel of is dit die nie-jag.

 

Indien hierdie aksies nie tot voordeel van die boere gestrek het nie, sou hulle nie die geweldige kostes aangaan om sodoende hulle lammer-oes te beskerm nie. Die vraag is nou of dit ten nadeel is van die jakkals. Die jakkals is hier om te bly weens verskeie redes waarvan die doodmaak van hulle nie een is nie. Meer en meer dele word in privaat natuur reservate omskep en so ook in wildplase. Dit laat nog meer dele oop waar die jakkalse aanteel en versprei wat weer die getalle wat doodgemaak word gaan verhoog. Indien die aanteel op sulke plekke nie beheer word nie gaan die aanwas van so ‘n aard wees dat ons met ‘n on-omkeerbare situasie gaan sit van waar jakkalse in sulke groot getalle voorkom dat kleinvee boerdery totaal onekonomies gaan wees. Jakkalse sal in sulke groot getalle voorkom dat hulle die aaklige dood van brandsiek sal sterf. Gegewens van brandsiek onder die coyotes in Amerika het almal een oorsaak. Te veel aanteel en te min natuurlike vyande om die aanteling in toom te hou.

 

Hierby wil ek aansny die holistiese benadering. Soos ek dit verstaan is dit om met sekere diere soos jakkalse ensovoorts saam te leef as hulle nie skade veroorsaak nie. Die probleem is egter dat as jakkalse by jou bly en nie by jou skade veroorsaak nie is dit nie te sê hulle vang nie by die buurman nie. Tweedens is dit om omgewingsvriendelike metodes ipv dodelike metodes te gebruik om skade te beperk of te voorkom. As daar na die verskeie artikels in die verskillende landbou tydskrifte gekyk word is daar van die vroegste tyd al probeer om sulke metodes te vind sonder werklike volhoubare suksesse.

 

Die vervaardigers van die klokkies en ander voorsorg maatreëls waarsku self dat dit nie te lank gebruik moet word nie want die roofdiere leer dit aan. Ek het dit op al die plase gesien waar die verskillende voorsorg maatreëls gebruik word, en het ek verskeie fotos om dit te staaf. My beskeie mening is dat dit ‘n tydelike middel is om in die tyd van voorkoming, die betrokke probleemdier van kant te maak. Indien ons kyk na die nuwe manier wat so ‘n paar jaar gelede posgevat het naamlik Anatoliese Herders honde het ek ongelukkig my bedenkinge. Daar is werklik baie min boere waarmee ek in aanraking kom, wat sukses met die honde behaal.

 

Die eerste klagte is dat die hond meer by die buurman se skape loop as by die eienaar se eie. Die honde loop verskriklik rond en is daar baie gevalle waar die hond selfs skape en bokke vang. Dit het persoonlik met ons gebeur. ‘n Studiestuk  “An analysis of the economic impact Black-backed jackals are having on sheep farms in select areas of the Eastern Cape” deur Geoffrey Wilmot in September 2008 is bevind deur navraag aan boere, dat hulle dink honde werk die beste. Met die vraag wat hulle dan sal doen as geld nie ‘n opsie was nie het hulle nie soos verwag honde gekies nie maar jakkals werende heinings.

 

Daar is dus blykbaar ‘n persepsie dat die honde werk maar is dit my beskeie mening dat dit wetenskaplik nagevors moet word. Ek is van mening dat verskeie honde met sateliet senders gemonitor kan word en dat die bevindinge ons beter sal kan toelig. Die grootste suksesse blyk by die telers te wees. Hoe meer ek oor die honde oplees hoe meer word ek oortuig dat dit soos in Turkye, in samewerking met ‘n skaapwagter gebruik moet word.

 

Verskeie stories word versprei dat die honde jakkalse se spore volg en dan die jakkalse daar doodbyt en dit is hoekom die honde vol bloed is. Ek kon op geen van die oorspronklike inligting stukke sulke bewerings opspoor nie en word spesifiek vermeld dat die diere nie die vee sal verlaat nie maar die gevaar daar verjaag of deur aggresief te blaf of die dier te verwilder indien dit korrek opgelei is soos bv in samewerking met ‘n wagter. Dit is al soveel keer bewys dat jakkalse van die mees aanpasbare diere is en dat enige nie dodelike metode slegs die skade vir ‘n tydperk uitstel.

 

7) “Die holistiese beginsels van roofdierbestuur sal sterk in die kursus na vore kom. Indien grondeienaars dan hierdie beginsels implimenteer en steeds skade deur enkele indiwidue ondervind, moet hierdie opgeleide ouens uitgaan en die enkele kwaaddoeners selektief verwyder deur roep en skiet.”

 

Implimentering van die holistiese beginsels word as voorwaarde gestel vir boere om gehelp te word. Eerstens is daar nie wetenskaplike data waarvan ek bewus is wat die beginsels se sukses kan verifieer nie en indien daar is sal ek werklik dit in die hande wil kry om dit as deel van my probleemdier beheer kursus in te sluit. Tweedens indien 500 veeboere nou byvoorbeeld honde moet kry vir 5 kampe elk is dit ‘n totaal van 2500 honde, wat vir ‘n tydperk van ongeveer 8-18 maande opgelei moet word. Waar gaan die hoeveelheid honde so vinnig verkry word en wat van die skade wat in daardie tyd voorkom.

 

Die jakkalswerende drade is tans op die einde van hulle leeftyd en is die koste van draad en pale so hoog dat dit finansieel onmoontlik is om die drade weer jakkalswerend te maak. Indien elektrifisering bygevoeg word is dit nog bykomende kostes. Ek wil nie eers dink aan die totale aantal onskuldige skilpaaie wat deur so ‘n elektrifiseringsaksie doodgeskok sal word nie, of sal dit as gevolg daarvan nie kwalifiseer as holisties nie? Met groot dele van die Wes-Kaap nog steeds in droogte of nou net uit ‘n droogte kan dit boere finansieel ruineer.

 

As ons kyk na die aantal dodelike metodes vir die bestryding van probleemdiere en veral jakkalse is dit slegs die volgende:

  • Enkele dodelike dosis gif (EDD) waarmee ek nie saamstem nie aangesien dit onskuldige diere uitwis.
  • Gifskieters wat nou deur die nuwe wetgewing moontlik verban gaan word.
  • Slagysters (nou uit).
  • Gif Halsbande.
  • Roep en skiet (nou uit).
  • Teelgat hantering. (nou uit)
  • Pak opgeleide Honde (nou uit).
  • Voorsit en aanjaag.(onbekend of dit gedoen kan word.)
  • Helikopters en vliegtuie (te duur ongeveer R6500-R7500 per probleemdier gedood en onbekend of dit gedoen kan word)

 

Dit wil voorkom of u die boere nie met veel keuses laat nie behalwe moontlik die gifhalsbande maar teen R200-00 ‘n band en baie arbeid intensief met die daaglikse nagaan is dit prakties onmoontlik. Jakkals leer ook vinnig om van agter te vang.

 

Ek het ongelukkig baie negatiewe reaksie vanaf die boere jeens Cape Nature se besluit gekry en is die oorgrote meerderheid dit eens dat gifstrooi aan die orde van die dag sal wees om die jakkals ontploffing wat gaan volg te probeer keer met ‘n ontsettende negatiewe uitwerking op alle ander kleiner roofdiere, roof voëls en die natuur.

 

 

 

 

8) “Wat ons wil uitskakel is die ouens wat so veel moontlik roofdiere in 'n nag probeer skiet vir die geld. Dit is die ouens wat skade aan die omgewing aanrig en veroorsaak dat veeverliese eskaleer.”

 

Alle jagters word tans per dier gedood vergoed. Die jagters jaag nie die geld na nie en as u navraag doen sal u sien dat ‘n jagter wat sy sout werd is ‘n aantal gevestigde kliënte het wat hy diens. Ongeag of hy baie of min skiet. Daar is net soveel jag-aande en net soveel kliënte wat gediens kan word. Boere sien ook gou watter jagters net in die somer maande wil jag om sodoende die groot hoeveelhede kleintjies te skiet en so sorteer die vryemark stelsel hom uit. Die boer verkies ‘n professionele jagter wat hom deur die jaar kan help. Dit is vraag en aanbod gekoppel aan sukses. Sukses is oor die algemeen ook nie hoeveel jakkalse geskiet word nie maar of die boer se probleem opgelos word. Ek dink dit is voor die handliggend wat die groot hoeveelheid getalle van jakkalse veroorsaak en is dit beslis nie jag druk nie.

 

Dit is juis hier waar ek die rooikat as voorbeeld wil gebruik. Die rooikat sal nooit die groot aanwas van jakkalse kan ewenaar nie oor die eenvoudige feit dat die rooikat gewoonlik een, twee of maksimum drie kleintjies het waarvoor sy vir ten minste 10-18 maande moet sorg wat haar dan vir amper twee jaar uit die voortplantings siklus haal. Alhoewel rooikatte ook weens die natuur reservate en ander plase vermeerder is dit nie in sulke groot hoeveelhede nie.

 

9) “Hierdie stappe is nie in plek gestel met die doel om veeboere te benadeel nie, maar om toestande daar buite te probeer stabiliseer sodat veeboere minder verliese sal ondervind en ekologiese prosesse nie verder skade sal ly.”

Dit is my beskeie mening dat hierdie stappe juis die boere gaan benadeel. Nou het boere wat deur die jare die getalle van jakkalse in toom gehou het geen metode om te gebruik nie en is sy gebied nou die vakuum. Jakkalse sal vinnig intrek en vermeerder dat kleinvee boerdery nie meer lonend sal wees nie.

 

Professionele jagters wat deur die jare reeds ‘n aantal kliënte opgebou het sit nou ewe skielik sonder werk en met die huidige werkloosheid syfer en ekonomiese toestand van ons land dink ek dit was werklik ‘n ondeurdagte besluit. Ek is dankbaar ek het nie díe families op my gewete nie. Professionele jagters wat kan bewys dat hulle ‘n aantal kliënte het, ‘n kursus deurloop het en moontlik deur u of wie ook al ge-evalueer is moet kan voortgaan om sy kliënte te diens hetsy met ‘n permit stelsel of iets dergliks. Ek dink nie daar is ‘n jagter wat nie met u sal wil saamwerk nie en data wat so versamel kan word kan van onskatbare waarde wees vir toekomstige besluite.

 

Ek is verder van mening dat u besluit nie die toets van ‘n hofsaak sal deurstaan nie om die volgende redes:

  • u die reg van die boer ontneem om sy eiendom te beskerm en sodoende sy voortbestaan in gevaar stel.
  • U bepaalde metodes van gevestigde beheer wegneem sonder die daarstelling van alternatiewe metodes.
  • u wetgewing in stryd met die “National Enviromental Management: Biodiversity Act, 2004 (Act 10 of 2004) Threatened or Protected Species Regulations” waaroor daar landwyd insette gekry is en was die voorstel reeds afgewys om die jakkals en rooikat op die beskermde lys te sit wat u nou in effek doen.
  • Die nuwe voorgestelde wetgewing van “Norms and Standards for the management of damage causing animals in South Africa” ook onder die “Biodiversity Act 10 of 2004 se terugvoer is ongeveer twee maande gelede ingehandig vir verwerking en is die standaarde nog nie vasgestel nie wat u nou wil voorspring.
  • U die finansiele voortbestaan van vele jagters sal kelder en nie net blankes met die roep en skiet metodes nie maar vele ander wat ek as voetsool jagters sou beskryf wat op ‘n harde, eerlike en eerbare manier met ‘n slagyster ‘n bestaan maak.
    Waar werkloosheid so ‘n groot faktor is sal ek eerder ‘n aksie van stapel stuur om mense op te lei in die korrekte beheer van probleemdiere om sodoende vir hulle self ‘n inkomste te genereer.
  • Die jakkalse en rooikatte is nie bedreigde spesies nie en is ‘n “renewable resource”, wat inkomste genereer met jagters ens sonder dat enige van die twee spesies se voorbestaan in gevaar gestel word. Baie meer wild, springbokke ens word jaarliks geskiet as jakkalse.
  • Die toelating van die onbeheerde aanteel van die twee spesies meer skade aan die natuur en verlies aan biodiversiteit kan teweegbring soos byvoorbeeld die uitsterf van die Oewer konyn, verlaging in getalle van natuurlike prooi soos die steenbok, duiker ens.

 

Dit wil voorkom of u alle maniere van beheer waar diere gedood word wil voorkom en dit ten koste van die natuur, boere en jagters en sonder insette van die publiek of net nie agslaan op die insette nie . Sekere besluite word nou afdwing wat nie wetenskaplik gegrond of ondersoek is nie en wat net nie sin maak nie.

 

Ek hoop werklik om van u te hoor. Ek sal u skrywe asook my antwoord daarop op my webwerf plaas te www.jaracal.com en vra vir insette van die jagters en belanghebbendes. Indien u my sou antwoord sal ek ook daardie skrywe daarop plaas vir algemene insae.

 

 

Die uwe

  

Heinrich Funck

 

© Hein Funck