DIE OU BALLIE VERTEL...

Post Reply
PWV
Hero Member
Hero Member
Posts: 7343
Joined: Sun Jul 15, 2012 6:21 pm

DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by PWV »

Na aanleiding van Ockert1992 se "Uitdagende jagtogte", die volgende storie:

MY EERSTE JAG IN SUIDWES

Dit is Junie 1969 in Vryburg en ek en my buurman, Daan, is besig om sy Ford te pak. Daan het so ‘n maand gelede vertel van sy broer in Windhoek en dié het ‘n vriend in die Komas Hoogland waar die koedoes in die tuine rondstap. Ons kan daar gaan jag - elkeen ‘n koedoe of twee skiet wat ons niks sal kos nie. Nou kyk, so iets kan ‘n jag-mal outjie van 26 nie weerstaan nie. Daarom pak ons nou die Ford.

Op die kop sesuur die aand vat ons die langpad. So laat want Daan het eers om vyfuuur uitgeval. Nou Upington toe. So ‘n paar kilo’s duskant Upington laat Daan hoor dat die tenk nou skielik vinnig sak en hoop ons bereik die naaste vulstasie. Ons stop by die eerste garage en bekyk die besigheid. ‘n Klip het die petroltenk stukkend geslaan. Wat nou? Dit is middernag.

“Seur”, kom hier ‘n stem van die kant van ‘n oorlaaide bakkie. ‘n Ouerige man staan nader. “Ry julle dan nie met sunlightseep in die kar nie? Sonder sunlightseep gaan julle nie ver kom nie. Wag ek het ‘n koekie en sal vir jou ‘n stuk afsny.” Hy kruip ook sommer onder die Ford in en kom later uit. “Die plek is reg. Julle kan maar volmaak en laat waai. Windhoek lê nie om die draai nie.”

Ons is so dankbaar dat ons die man ‘n noot of wat in die hand stop wat hy aanvanklik nie wou aanvaar nie. En so is ons daar weg en het Windhoek sonder enige probleme gehaal. Ek moet dit sommer ook noem dat ons met daardie gelapte tenk weer terug Vryburg toe is.

By Daan se broer, Blackie gekom, is daar vinnig gegroet en iets geëet en toe in die pad gespring plaas toe. Na die Khomas Hochland anderkant Windhoek. Ons verlaat die teerpad en beland in ‘n konkelende paadjie wat later net twee spore word, tussen groot, ronde rotse wat yl verspreid lê in die optes en aftes – meer op as af. Uiteindelik die opstal op ‘n effense plato’tjie. Dit is duidelik dat dit nie bewoon word nie. So 200 meter van die huis af, is ‘n klein geboutjie en ‘n swart man loer daaruit. Langs die geboutjie is ‘n prosopus-boom met ‘n bobbejaan aan ‘n ketting. Dit lyk asof dit die enigste lewe hier is. Blackie het vertel dat dit net Simon en sy bobbejaan is wat hier op die plaas woon.

Dagsê, Simon, kom laat ek jou voorstel aan die manne”, laat Blackie hoor.
Nog twee mans peul uit die kamertjie. Soul en Hendrik.
Meneer, ek het hulle gekry om te kom help. Die grootbaas het verlede week laat weet julle is drie wat kom en ek moet nog twee gidse bykry.”

Eerste keer in my lewe dat ek met ‘n gids sal jag. Klink opwindend en laat my dink dat dit in die tyd van slawe ook amper so moes wees. Die tweede gedagte wat by my opkom, is dat ons in hierdie onherbergsame gebied sal moet stap. Gelukkig is ek baie fiks, maar dit is rugby-fiks.

Die aand bespreek ons die strategie. Daar is net drie waterpunte op die plaas met ‘n paadjie na elk. Blackie sal vir my by een aflaai, vir Daan by die volgende en hy ry dan met die Landrower na die derde punt. Daarvandaar stap ons dan met ‘n ompad terug huis toe. Ek kry ‘n 30-06 en ‘n pakkie van twintig 150-grein patrone.
Pieter, jy sal net die patrone moet betaal – dit sal R10 wees”, sê Blackie.”

Ek word eerste afgelaai. Simon stap saam met my. Hy het twee lang stokke en gee vir my een. “Meneer sal beter stap met die stok – dalk ook makliker om ‘n pofadder uit die pad kry met die kierrie”, laat Simon hoor.
Die geweer hang oor my skouer en ek stap werklikwaar gemakliker met die stok. Kort-kort moet ek egter vir Simon aanmaan om nie so vinnig te stap nie. Dit is nie ‘n geval van op ‘n gelykte stap nie – dit is oor stompe en klippe klim. By tye gewonder waarin het ek my begewe het, maar dan kry die jeug en trots weer die oorhand en ek probeer om my moegheid so bietjie te verdoesel. Simon is egter nie so onnosel nie en ek kom agter dat die siniese grynslaggie om sy mond as hy omkyk, die hele storie vertel. Dan wonder ek of hy my jammer kry en of hy hom verlekker in my lamheid. Na ‘n uur roep ons halt.
Simon, bring die rugsak dat ons ‘n lafenissie kan kry”, blaas ek.

Ek vra hom uit en hy noem dat hier ook luiperds is. Hy vertel van die slag toe hy en ‘n vriend met die honde gestap het en ‘n luiperd in ‘n klipskeur vasgekeer het. Hulle het aanvanklik nie geweet dit is ‘n luiperd nie – gedink dit is ‘n rooikat. By die skeur steek sy vriend met die stok na die ding en daar vlieg ‘n gespikkelde bondel uit. In die verbygaan byt hy sy vriend aan die kop en skeur ‘n hond se pens oop. Dit het blitsvinnig gebeur en met die vier diep tandmerke aan die kop, is sy vriend so te sê opslag dood en het die hond het dit ook nie lank gemaak nie. Gewonder hoekom hy my dit nou juis hier moes vertel. Hy het seker die angstigheid in my oë gesien en daarom stel hy my gerus.
“Meneer hoef nie bang te wees nie. Hulle is net gevaarlik as hulle vasgekeer word.”

Ons stap weer, langs ‘n groot rots verby. Voordat ek anderkant uitkom, stop Simon en kniel. Hy wys na links. Versigtig loer ek agter die rots uit. Daar is so ‘n klein klofie en teen die oorkantste hang stap ‘n koedoebul voor, dan volg ‘n koei en die kalf heel agter. Ek skat dit op 200 meter. Perfekte dooierus oor die klip. Die groepie gaan staan – ‘n teken dat hulle iets gewaar het. Op hierdie stadium was die kruishare reeds agter die bul se blad en die skoot versteur die stilte en weergalm met ‘n donderslag deur die klofie. Mis!

Jammer, Simon, maar ek kan nie hierdie misskoot verklaar nie.”
Dis raak, meneer, hy het geval.”

Ons haas ons na die plek en ek kan nie glo dat ek nie gesien het hoe hy val nie. Daar gekom, wys hy my die kalf. Ek kan dit nie glo nie. ‘n Perfekte skoot deur die nek van die jaaroud kalf. Toe besef ek wat gebeur het en leer sommer ‘n dure les. Skiet vooraf met ‘n geweer voordat jy met hom gaan jag. Moenie glo wat iemand anders jou wysmaak nie. Gelukkig by die ongeluk – die kalf is nie te groot nie. Ons haal die pens uit en sny die kop af. Sny hom middeldeur en ek dra die agterhelfte en Simon die voorhelfte na die naaste pad. ‘n Tweede ding wat ek geleer het: moenie ‘n groot dier skiet as hy nie maklik met ‘n voertuig bereik kan word nie.

Toe hulle ons kom oplaai, verduur ek maar die spottery tot by die huis. Ek gaan sit ‘n wynboks op 25 meter en laat Blackie skiet. Mis! Die stof slaan 'n meter regs van die boks uit. Ek vertel toe my storie en dit word geredelik aanvaar omdat dit vir Blackie moeilik was om te erken dat dit die geweer se skuld was.

Ek het die volgende dag nog ‘n mooi koedoebul geskiet en Blackie ‘n koei. Arme Daan was nie suksesvol nie. Ons het biltong en wors gemaak, dit opgehang en na die vyfde dag in die Khomas Hochland, die lang pad huiswaarts aangepak. ‘n Ondervinding en voorreg wat my lank sal bybly!
Last edited by PWV on Tue Mar 22, 2016 5:32 pm, edited 1 time in total.
User avatar
tau
Hero Member
Hero Member
Posts: 3946
Joined: Sun Feb 21, 2010 11:07 pm

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by tau »

Lekker dankie Oom. Daai wereld se jag is steeds verniet op baie plase, jy moet net self die bok op die bakkie kry...
Moet nooit 'n goeie storie met te veel waarheid vernietig nie!!!
The Tool from Toolbag.
User avatar
Stephan86
Hero Member
Hero Member
Posts: 551
Joined: Thu Feb 26, 2015 10:00 am

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by Stephan86 »

Baie dankie oom.

In so 'n kort week soos die waar ons nie wil werk nie, lees so 'n storie ekstra lekker.
.22 LR Webley & Scott Xocet
.243 Win Tikka T3
.308 Win Sako 85
.375 H&H Steyr Mannlicher Mod S.
12 Ga Franchi Affinity
Glock 19
Glock 43X
User avatar
NicoSmit
Hero Member
Hero Member
Posts: 1899
Joined: Thu Jun 14, 2012 7:00 pm

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by NicoSmit »

"koedoebul voor, dan volg ‘n koei en die kalf heel agter" Daai geweer was darem ver uit gewees as hy die kalf raak skiet
Mag jou skape begin jakkals jag.....Adam Tas
User avatar
ruaanb
Hero Member
Hero Member
Posts: 5557
Joined: Thu Aug 14, 2014 10:29 am

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by ruaanb »

Dankie oom vir die vertel. My pa vertel nou nog met kleur en geur sy jagte in daai wereld.
Suikermuis
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 290
Joined: Thu Mar 21, 2013 9:44 pm

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by Suikermuis »

Dankie oom PWV.

Wanneer sien ons die boekbekendstelling van oom se jagtogte hier op Jaracal geadverteer word? Oom het klaar die titel vir die boek
User avatar
toelie
Hero Member
Hero Member
Posts: 926
Joined: Mon Nov 26, 2012 9:10 pm

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by toelie »

mooi vertel oom klink of dit te lekker was
.22LR Voere
.22LR CZ Varmint
.22-250 CZ Varmint
.22-250 Savage Vlp
.243 Kwagga Savage Vlp
.6 XC Tikka Varmint
.25-06 Ruger Nr1
.300WM Sako
.375 Ruger Howa
.50 cal voorlaaier Buckstalker
.38 Special Rossi
.9mm Glock 17
.9mm Glock 43X
Ockert1992
Hero Member
Hero Member
Posts: 827
Joined: Wed Mar 13, 2013 7:35 pm

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by Ockert1992 »

Oom Pieter,

Dis die tipe jagte waarvan ek praat. Dis die tipe stories wat ek eendag as ek nie meer kan jag nie wil herleef.

Mooi vertel dankie oom.
User avatar
OU VOORSLAG
Full Member
Full Member
Posts: 177
Joined: Fri Mar 22, 2013 9:52 am

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by OU VOORSLAG »

Baie mooi storie wat goed vertel is ook oom.
Die Beste Plek om te wees is die Kalahari
Lee Enfield .303
6.5 x .284
Brnu .22
Howa .22-250
CZ PO7 9mm
User avatar
Chevvy SS
Hero Member
Hero Member
Posts: 3137
Joined: Thu Mar 01, 2012 11:55 am

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by Chevvy SS »

Dankie vir die deel oom PW.
User avatar
FHM
Hero Member
Hero Member
Posts: 3887
Joined: Tue Mar 20, 2012 2:58 pm

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by FHM »

Mooi vertel en ek het lekker gelees oom PW - was net kort man... ;)
Dankie vir die deel!
Francois
.22 Rem mod 597
6.5 Cr WBY VMC
.45 Beretta PX4 Storm SD
User avatar
Riaan Kriel
Hero Member
Hero Member
Posts: 1284
Joined: Tue Sep 02, 2014 3:53 pm

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by Riaan Kriel »

Dit was 'n lekker lees. Nou wag ons net ongeduldig vir die volgende hoofstuk ;)
User avatar
Gawie(13mm)
Hero Member
Hero Member
Posts: 6150
Joined: Sun Sep 18, 2011 6:53 pm

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by Gawie(13mm) »

Oom Pieter, vertel daar 'n bietjie vir die manne die storie van die toilet koedoe! 8) Dus nou 'n voorsit storie met "finese"!
Dont make expensive noise! Make the first shot count!
User avatar
Chevvy SS
Hero Member
Hero Member
Posts: 3137
Joined: Thu Mar 01, 2012 11:55 am

Re: DIE OU BALLIE VERTEL...

Post by Chevvy SS »

Gaan dit nie 'n str%#tstorie wees nie?
Post Reply