Soos van julle wat die forums patroleer weet, ek wou so paar weke terug gaan buffel jag. ‘n Paar goed was vir my opvallend wat ek graag wil deel maar voor ek verder gaan wil ek ‘n paar verklarings maak:
1/ Ek is ‘n leek as dit kom by buffeljag
2/ Ek weet niks van wildboer af nie
3/ Met alle respek aan die plaas, die boer en sy mense
So met dit uit die pad… hier gaan ons:
Met groot opgewondenheid is ek en my vrou oppad plaas toe, alles is gepak, ladings is reg, geweer is skoon en ons stapskoene is reg vir aksie. Sogesê kom ons op die plaas, ontmoet die mense en ons word na ons huis gevat. Alles mooi en netjies. Na so uur of wat se inpas kom die bakkie by ons aan, ons gaan gou geweer “inskiet”… gong is gehang op so 80m, geweer lê oor die stokke en die skoot gaan af, gong lui soos hy moet en die merk sit net net van die middel af… almal is gelukkig, buffels hier kom ons.
Skaars 5 minute van die huis af sien ons twee mooi buffel-bulle, “dis nie een van die twee nie” bevestig die man agter die stuurwiel. So ry ons verder. Nie lank nie en ons kry ‘n mooi trop, seker 20 stuk of meer, verkykers uit en ons soek, nie een van die bulle is die een wat ons soek nie en ons ry vêrder. Die son sit nou al lekker laag, so ons ry terug kamp toe vir die aand.
Volgende oggend vroeg is ek en die vrou reg, en die bakkie trek in op tyd. Na so 20mins se ry agterop en ons altwee se hande yskoud van die wind stop die bakkie… “van hier af stap ons vêrder” die opgewondenheid loop dik soos ons deur die gras stap en heeltyd heen en weer kyk. Nie lank nie en ons sien ‘n buffel lê, alleen. Nou is ons eers opgewonde, kan dit die een wees? Vêrkykers uit hier gaan ons. Skaars is die buffel se lyf in fokus toe sien ons die klein bruin kalf langs haar uitsteek… dis alweer nie ons bok nie. Ons stap ‘n wye draai om haar en die kalf om hulle nie te pla nie. Na so uur se vêrder stap sien ons weer die kolle in die gras, maar die keer 4 van hulle, soos dit nou al roetine is is die vêrkyker uit en ons sien dis vier mooi bulle, na ‘n wyle se gekyk stel ons vas nie een van hulle is die bul wat ons soek nie. Die teleurstelling is groot.
Soos wat ons stap in die veld gesels ons en die plaas-man, hy vertel ons van hoe swaar dit is op die plaas en moeilik dit op tye gaan. Hy trek binnekort stad toe vir meer standvastigheid, sy woorde was nog nie koud nie en ons kom op ‘n klomp wit bene af in die pad… ek vra hom uit daaroor: hy vertel ons toe dit was ‘n mooi groot buffel gewees wat hulle aanvanklik gebêre het vir iemand wat met ‘n dik beursie rondloop… die bul het skielik begin kondisie verloor en hulle het hom op die ”goedkoop” mark gesit vir ‘n jagter, daar was egter niemand wat hom wou skiet nie en hy het toe ‘n week of wat later gevrek. Dis hier wat iets vir my opvallend was (meer van dit later)… met die het ons tweede dag tot einde gekom met baie buffels gesien, meeste koeie en bulle wat nie die “een” is wat moet af nie.
Dis ons laaste vol dag vir jag en ons is weer vroeg op, koffie is in en ons wag vir die bakkie. Ons is oppad veld toe, ons kry die buffels, maar daai “een” is nogsteeds nêrens te vinde nie, hy weet daar is ‘n prys op sy kop gesit. Ons ry keer op keer die 4 mooi bulle raak wat ons op dag een raakgeloop het maar dis nie een van hulle nie. So gaan die oggend verby en ons gaan eet middagete… middagsessie is nou maak of breek. So ry ons en soek en soos elke dag sien ons weer die 4 mooi bulle, die man agter die stuurwiel bel verwoed rond… na ‘n ruk se gesels vra hy, kan ek nie dalk my begroting vergroot met ‘n paar rand nie, dan kan ek een spesifieke buffel uit die vier skiet. So gesê so gedaan, ek wheel-en-deal en ek kan die paar extra rande bymekaarskraap.
Ons is van die bakkie af en ons bekruip die vier gevaartes, nou kom die aksie. Na so 25min se stap sien ons hulle, ons stap doodstil nader… rangefinder sê ons is 28m weg… my hart klop iets verskriklik. Ons sien die bulle lê, maar ons kannie uitmaak wie is wie nie… ons wag en wag. So raak die buffels rusteloos en staan op, ons kan uiteindelik sien die een reg voor ons is die regte een, maar hy staan met sy suidekant na ons toe… en so stap hy 20 tree verder en verdwyn in die bosse in. Dis te ruig en ons gaan nie agter hulle aanstap nie, ons is nie so braaf nie. Die son sit laag en ons moet terug huistoe…
So het my eerste poging tot buffeljag gekom en gegaan, 28m was die afstand tussen my en my droombok en my enigste skoot was geskiet op ‘n gong.
Met hierdie wye draai wil ek nou tot op my punt kom, die regte rede hoekom ek hierdie post opsit, en waar my verklarings van pas kom:
Is daar nog manne hier wat voel dat die lokale buffel-jag tans in ‘n “prys bubble” is – soos Bitcoin so paar jaar terug? Rowwe pryse wat wag om te bars. Die mense op die plaas kry swaar, maar hulle sal nie ‘n bok laat skiet wat nie die presiese een te koop is nie, hulle sal die wat daar loop eerder hou vir die moontlikheid van ‘n oorseese jagter wat bereid is om meer te betaal. Hierdie “hou” buffels is slegs beskikbaar teen die prys wat ek wil betaal as hy sieklik is en hulle nou in die knyp is om hom te verkoop voor hy doodgaan. Persoonlik wil ek nie ‘n dier skiet wat gaan omval van die knal en nie van die koeël nie. Hiermee bygesê, ek vra en verwag nie om jou spog-bul te skiet teen ‘n weggee prys nie, maar as iemand wat werk met voorsiening, navraag en bemarking weet ek dat een van die duurste uitgawes is om ‘n klient te kry. Nou dat ek op die plaas is om geld te spandeer, maak seker dat die geld daar bly en nie in my beursie teruggaan huistoe nie, die kanse wat ek kan terugkom na jou toe is skraal - nie omdat ek kwaad is nie, maar omdat ek bly soek na ander geleenthede wat dalk beter is.
Hoe dit ookal is, ek is nou aan die spaar sodat ek hooplik volgende jaar of binnekort ‘n VOL prys buffel kan skiet - Buffel op 'n budget maak dit net moeilik

