Eland Bul 500 Jeff.jpeg
Wag dat die dier die fout maak
Sedert 2021 was ek op soek na ’n elandbul. Ek wou nie bloot enige bul jag nie. Dit moes ’n ou, bul wees — ’n dier wat reeds baie seisoene oorleef het.
Ek het van die begin af ook presies geweet hoe ek hierdie jag wou aanpak: te voet, met oop visier en met my .500 Jeffery. Dit moes ’n behoorlike jag wees.
Deur die jare het ek baie km's in die veld afgelê sonder sukses. Daar was lang dae se stap, ure se spoorvat en talle geleenthede wat eenvoudig nie uitgewerk het nie.
Maar ek het aangehou soek.
Middel Junie vanjaar, op die 2de laaste dag, het die geleentheid uiteindelik gekom, na enkele km's se stap skuins na middag-ete, het ons die koeie eerste opgemerk, en toe die bul met sy kuif gesien.
Hy was deel van ’n trop, wat die jag aansienlik moeiliker gemaak het. Met soveel oë, ore en neuse in die veld moes elke beweging stadig, versigtig en doelgerig wees. Een verkeerde tree, een skielike beweging of ’n verandering in die wind kon die hele jag beëindig.
Ons het die trop vir meer as drie ure bekruip.
’n Professionele jagter het my eenmaal ’n baie waardevolle les geleer: Wag dat die dier die fout maak — moenie jy die fout maak nie.
Daardie woorde het gedurende hierdie jag voortdurend by my gebly.Ons sou nie die geleentheid probeer forseer nie. Ons het geduldig ge-bly, die wind vertrou en wag dat die bul self vir ons die geleentheid bied.
Dit het baie geduld geverg en was ’n groot deel van die spanning van die jag.
Uiteindelik het ek op my knieë gaan sit en wag. Vir byna twee ure het ek so gebly, met die .500 Jeffery gereed en my oë vasgenael op die spesifieke bul. My knieë was seer en die spanning het begin vat, maar ons het geweet dat ons nie nou die fout kon maak nie.
Met ’die oop visier moes alles reg wees.
Toe begin die trop stadig deur die opening voor my beweeg.
Die ou bul het die skootvak binnegestap, maar voordat ek ’n skoot kon vat, het hy regdeur gestap en aan die ander kant verdwyn. Vir ’n oomblik het dit gevoel asof die geleentheid waarvoor ek al die jare gewag het, verby was.
Ons het egter stilgebly en gewag.
Toe maak die bul die fout.
Hy het omgedraai, teruggestap en weer die skootvak binnegekom. Hierdie keer het hy tot stilstand gekom en vir my die skoot gebied waarvoor ons so lank gewag het.
Alles het vir ’n oomblik stil geword.
Ek het die oop visier op sy engine kamer gesit, asemgehaal en die sneller getrek.
Die .500 Jeffery het gepraat, en die groot, ou elandbul het op die plek neergeslaan.
Ná al die jare se soek, al die km's in die veld, meer as drie ure se bekruip en byna twee ure op my knieë, het die skoot homself uiteindelik gebied.
Dit was die verwesenliking van ’n droom wat ek vir jare saam met my gedra het. ’n Jag wat ek nooit sal vergeet nie — nie net oor die besondere bul nie, maar oor die pad wat dit geneem het om uiteindelik daardie oomblik te bereik.
Ons het gewag dat die dier die fout maak.
En uiteindelik het hy.