Hallo Manne!!!
Dis met groot vreugde dat ek hierdie storie met julle medeel!
Ek het Donderdag aand deurgery JHB toe want vroulief moes die volgende dag by die koekeloerder wees om te kyk of als met baba nog reg is. Toe die ondersoeke klaar is toe bel ek sommer net om die voelers uit te steek van waar word daar die volgende dag varke gejag..
En toe is dit wragtig die beste plaas in die kontrei! Wel, toe moes ek nou maar half subtiel vir mamma oorvertel dat ons wel dieselfde middag nog sal terug ry Piet Retief toe want ek het 'n afspraak die volgende dag. Sy was darem nie te kwaad nie
Wel 5uur vertrek ons uit JHB uit en ry sommer die nuwe lekker N17, tussen Bethal en Ermelo breuk daar toe 'n vragmotor in die middel van die padwerke, die sit ons toe sommer 'n uur terug. Laat die aand toe is ons veilig tuis, maar die 3uur opstaan om te gaan varke jag is maar swaar op die gemoed, ek is moeg.... Wel net na 3 gaan die wekker af en ek besluit ek sal maar oorstaan, ek het hoekal so ongemaklikheid omtrent die storie gehad. So 4:30 laat weet ek maar die manne ek gaan nie kom nie. Hier teen 6uur bel ek gou die plaas bestuurder en die manne het blykbaar net begin. Ek praat gou met vroulief en besluit ek ry deur Amsterdam toe.
Net na 7 stop ek op die plaas en ry 'n draai om die land om te kyk waar ek wil wees, kom tot op 'n punt en draai om en ry terug om die land na die anderkant. Ek ry verby manne met 'n radio en hoor waar die honde heen oppad is. Toevallig, net daar waar ek is. Geweer is gelukkig al volgemaak toe ek by die plaashek gestop het. Hier hoor ek die honde is by my en ek kan hoor hier is iets aan die gebeur!!! Manne, nou laat ek julle vertel, ek het seker 20 rye mielies platgetrap soos 'n seekoei, want daar was 2 ander manne kort op my hakke! Hierdie was my vark! Toe ek by die honde kom het hulle die vark omsingel, seker so 10+ honde, maar hulle staan maar wyd want die vark ken nie honde nie en het alreeds 3 honde bymekaar gemaak. Ek skree verwoed op die honde om kans te kry, want as jy 'n hond raakskiet is dit 'n paar duisend rand. Die volgende oomblik gee die honde pad voor my en die beer kyk my stip in die o?!!! Net daar weet ek die man s? vir my hy gaan my rol!!! Dit was benoude oomblikke! Dis die eerste lewendige vark wat ek sien op 'n jag, en dit was nou al my 5de keer. Ek kan nie skiet nie, daar is honde oral in alle rigtings. Ek sidestep toe want ek sien 'n klein gaping tussen honde, nou ek weet nou nog nie hoe ek gemik het nie, maar dit was als in een natuurlike beweging wat soos ure gevoel het. Die skoot het geklap op die vark se skouer en hy het net daar geval toe is al die honde op hom, die brass doppie vlieg soos 'n helikopter en die volgende rondte is in die kamer! Want die ding word so rondegruk deur die honde ek is nie seker wat gaan gebeur nie! Maar die vark se laaste asem was lankal uit. Net toe kom die ander manne by my uit. Hulle het my blykbaar geroep, maar daarvan weet ek nie. My eerste woorde na ek is geskree het die vark is plat was: Dankie Liewe Jesus!!! Dit was 'n groot oomblik in my lewe!! Ek het my geweer veilig gemaak en die vark begin terugsleep pad toe. Dit was 'n blye oomblik tussen die manne met gelukwense die orde van die dag. Dit was wonderlik hoe die manne saam met my bly was oor my groot oomblik! Ek is onmiddelik gestuur om die kamera te gaan haal en die foto sessie het begin! Ek was so vol adrenalien ek het die vark van so +/- 75kg sommer gou man alleen op die bakkie gelaai! Wat die res van die dag gebeur het kon my nie veel pla nie, ek het my vark gekry! Vir my het dit gevoel of ek 'n buffel gejag het, kan dit nie anders beskryf nie!

