Hallo Antie Hannie,
Lanklaas van Antie gehoor. Net baie donkerte hier by ons op Paterson as gevolg van een of ander moer wat moeligheid gemaak het by Koe-Koe? Ag, die Kaap se Eskom.
Ons huis lyk party aande soos 'n disco so kort opmekaar gaan die krag af en aan. Pa het toe gesê genoeg is genoeg. Net voor Krismis besluit hy hy wil oplaas 'n jenneryter koop, oorlat hy moeg was vir allie alewige kragonderbrekings.
My Oupa het al gedink die krag wod afgesny omdat Pa elke maand die Munispaliteit se geld innie borrelstoor belê. Maar Pa sê hy's gatvol, dit maak nie saak nie, of dit nou daai simpel mannetjie vannie Cownsil is wat onse krag afsny, of daai onnooslike amptenaar van Eskom, hy worrie nie, hy wil 'n jenneryter hê. Hy en Ma is altwee moeg van allie episodes van Sewende Laan wat hulle nie te siene kry nie.
Nou ja, toe gat ek en Pa kooperasie toe om die ding te koop. Oppie kaart, want Pa sê my ma se kaart is baie lekker - jy koop net op Budget se rekening. Jy vertel die mense om dit op Budget se rekening te sit, dan doen hulle dit sommer. Ek weet nie lekker wie Budget issie, maar ek weet net Pa sit alles op Budget se rekening. Ek reken dié Budget gat darem lekker moerig wees as hy uitvind wat Pa alles op sy rekening koop.
Maar Pa worrie nie. Hoe gaan hulle ooit uitvind, wil Pa weet.
In elk geval ons loop koop toe die jenneryter, en dis net mooi daar waar die moeilikheid begin.
Kyk, as julle dink my pa weet niks van kampeer af nie, of van karre af nie, of van vroumense af nie - dis tog goed wat 'n mens kan sien - dan moet julle weet, hy weet nog minner as niks van lektriek af nie. Dis wat my ouma altyd sê.
Maar Pa is nie gepla nie. Toe hy eers ná 'n hele ellelange paragraaf se vreemde woorde daai jennerytertjie gestaart kry, toe dink hy mos lat hy 'n elektriese ingeneer is. Dis glo slim ouens wat als van krag verstaan, sê hy.
So, voor my pa die ding aan die krag loop koennek, toe swiets hy eers die jennerytertjie af en hy se vir my, "Kleinboet, as 'n ou met kragwerk, dan moet jy slim wees, en nugter wees." Toe tref dit my - Pa is nie gewoonlik een vannie twee nie - só toe weet ek: hie kom gróót stront!
Maar ek het verniet geworrie, toe Pa daai drade vat, en hy sjok nie, toe weet ek sommer hy weet weet wat hy doen. Toe maak hy die drade se punte mooi skoon solat die koper uitsteek - en hy is toe reg om die masjien aan die kragpunt te konnek. Nou ja, toe sit ek lekker en kyk hoe my slim pa die kragonderbreking ding onner die knieg kry, en ek worrie niks nie, oorlat ek kan sien Pa kén.
Toe maak hy daai swietsbord innie kombuis oop, en hy staan reg om sy jennerytertjie se drade aan die swietsbord se drade te koennek. Dis glo solat as die krag afgaan, dan staart Pa net sy jennrytertjie en dié se krag sal dan die swietsbord maak werk.
Daar's 'n gesegde wat die grootmense gebruik, hulle sê dat as die pawpaw die fan straaik, dan is daar groot moeilikheid. Daai ooms wat só sê, het nog nie gesien wat gebeur as die swietsbord se krag Pa tref nie!
Kyk, Antie, toe Pa so oppie leertjie regstaan en hy konnek daai jennerytertjie se kragdraad so aan die swietsbord se rooi draad, toe smaak dit vir my Pa is aan die hartaanval kry, of hy kry 'n senuwee instorting of 'n eleptiese aanval of 'n stroke offe ding, só beskyt hy hom!
Die way wat Pa daai swietsbord ruk en pluk, met die briekdance en alles, dog ek Pa gat die ding uit die muur uitruk en net 'n gat daar los daar waar die swietsbordtjie was.
Met 'n vreemde smile op sy gesig van die ge-shock lyk dit nogal of hy dit geniet. Pa spog mos hoeka hy kon jongtyd deurnag disko sonner ophou. Hy ruk daai swietsbord of hy aan't wen is op 'n dobbelmasjien!
Nou ja - die swietsbordtjie moef nie, en Pa hou nie op ruk nie, en hy maak sukke jodel-geluide wat amper klink soos Charles Jacobie op my ma se favourite langspeelplaat.
Ek dog dis van woede wat Pa so skreeu oorlat hy nou begin kwaad word virrie swietsbordtjie. Hy dans so oppie leer dat die een ná die ander boutjie uit die leer pop vannie geskud . . . en hy gooi sy dikkerige lyf rond bo-op daai leer asof hy nou inne jaaif-kompetisie deelneem, of 'n voordanser by die 20-20 krieket is!
Net toe ek vir Pa wil waarsku lat hy vannie leer gaan afval, toe gebeur dit al klaar - hy val van daai leer af, maar hy val nie grond toe soos 'n mens moet nie.
Toe verstaan ek hoekom party mense sê "hy't daar afgemoer" want daai wassie 'n val nie, daai was 'n moerse gatslag!
In elk geval, Pa val toe lat dit lyk asof hy geskiet is, maar sy lyf gee nog so 'n paar rukke met dié wat hy so met 'n boog deur die lug trek, nes daai ouens op TV wat by die olimpiese spele innie swembad induik en dan sulke langarm S-draaie innie lug maak. Al verskil is nou dat daar nie water onner is nie - net die klipsteenharde kombuisvloer met die bont linoleumtapyt wat golwe maak soos hy hom daarop desmoers val. Sy splinternuwe bo-tanne sit op die kombuistafelblad se rand vasgebyt, sonner lat Pa naby hulle is.
En toe Pa sy kop helemal misval en op sy agterent met 'n gatslag te lande kom, toe skrik ek want ek vrees toe vir harsingskudding, want my ma sê altyd Pa se verstand sit in sy agterent en dat hy sommer 'n lamsak is.
Maar toe's dit nog nie al nie. Daar sit Pa oppie vloer en beginne jaaif. Toe voel ek darem beter want ek kan sien hy is nie heeltemal 'n lamsak nie, oorlat hy sy boude toe daar oppie grond lekker vinnig wikkel, en hy boonop tog te lekker jodel met die een kragdraad steeds in sy hand soos 'n wafferse sanger met 'n mike. Skielik sien ek weer vir Charles Jacobie voor my.
En so tussendeur trek hy nog vir my snaakse gesigte ook, en eindig af met die spoeg van sy onnertanne in 'n sierlike boog netjies tot innie wasbak? Wat 'n performance!
Ek kon wragtag nie anders as om vir Pa hande te klap nie.
Die jennerytertjie staan deesdae vergete innie geraatsj onder 'n laag stof - niemand praat oorie voorval nie. En Pa soek nou net woes vir 'n windlaaier innie Landbouweekblad se snuffelgids!
Groetnis,
Kleinboet
Like ·


