Voice note asb...Eugene wrote:Ek het nou ongelukkig nie 'n dashcam in my toyota bakkie waarin ek 'n video kan maak nie. Wat dalk nie 'n slegte ding is nie, want ek het 'n gesig vir radio en 'n stem vir die geskrewe woord, so ek gaan maar moet terugval op 'n ander "outydse" euwel..... die sogenaamde "ope brief"!
Beste Pieter
Ek ken jou ongelukkig net uit die boodskappe hierbo en jou 2 videos wat al die polemiek veroorsaak het en ek wil myself oortuig dat dit te min inligting is om jou werklik te ken.
Ek is self 'n ywerige lang afstand jagter, maar ook 'n ywerige loop & bekruip jagter en was voorheen, ook 'n ywerige boogjagter (ja, ek het by water gesit en wag vir my prooi...). Voor jy egter dink dat ek nou gaan begin klippe lanseer, kan jy gerus ontspan. Niks wat jy in jou videos gesê het, is nuut of meer ontstellend vir my nie. Dit is hier op hierdie forum en om braaivleisvure en op facebook, al tot vervelens toe bespreek en ek sien regtig nie meer die punt in, om dit weer of verder te bespreek nie. Dit is egter jammer dat my mede-jagters, so in jou karakter ingeklim het en persoonlik geraak het. Jy moet egter verstaan dat jou (ongelukkige) woordkeuses in jou 1ste video, dit vir die manne laat voel het of jy hulle karakter aanvat, vandaar die reaksie. Ek moet jou ook respekteer vir jou 2de video, waarin jy probeer skade beheer toepas. Ek het nog altyd geglo dat dit bietjie ruggraat neem om verskoning te vra. Maar ek is tog jammer dat jy nie onvoorwaardelik verskoning gevra het nie en 'n "maar" ingesluit het.... Jy was egter nie al een wat moes verskoning vra nie en sommige persone wat kommentaar gelewer het, dink ek skuld jou ook 'n verskoning. Dis egter maar die slaggate en uitdagings van sosiale media, elke ou met 'n foon, of sleutelbord of kamera, kan sy opinie uitbasuin aan almal.
Pieter, ek weet nie hoe lank jy al op hierdie forum is nie en of jy hier was of kennis dra van die argumente wat gevoer is teen en vir lang afstand jag nie? Ek self was baie uitgesproke in my kritiek en nou dat my storm en drang jare grootliks verby is, voel ek nogal skaam oor sommige van my kommentare. Nie oor die inhoud daarvan nie, ek voel nog steeds net so sterk daaroor, maar op die manier wat ek dit aangebied het. Dit het 'n skeuring in die forum veroorsaak en sommige mense is permanent weg en ander baie stiller. Meer onlangs was daar net sulke sterk opinies oor leeujag gewees en weereens het harde woorde geval. Ek wil nie enige van hierdie 2 argumente heropen nie, want beide kante het sterk opinies en sterk argumente gehad en ek twyfel of enige "kamp" al intussen oortuig is deur die ander.
Die punt van hierdie ope brief, is om die volgende aan jou uit te lig. Ek het self geen begeerte om sekere diere te jag (of te skiet) nie. Maar ek besef dat daar mense is wat so 'n begeerte het. Ek het nie nodig dat hulle my moet oortuig van hulle redes nie. Wat ek wel moet doen, is om hulle reg daartoe te verdedig, indien dit wat hulle doen, wettig, verantwoordelik en volhoubaar is. As ons as jagters ons stem verleen teen 'n verbod op die jag van sekere diere (wat gewoonlik die hoofrolle speel in Walt Disney rolprente), het die eerste domino geval en gaan ons nie daardie besluit kan terugtrek nie. Dieselfde geld vir tipes jag dissiplines en vir sekere vuurwapens. As die bietjie inligting wat ek oor jou kon kry, net gedeeltelik waar is, dan is jy goed bewus van hoe politiek werk in die skietgemeenskap en ek kan jou waarborg dat die politiek van die anti-jag en anti-vuurwapen brigade, heelwat erger en meer bloeddorstig is.... In hierdie era van sosiale media en die drang van die mensdom om alles wat hulle doen, af te neem, op te neem en uit te basuin, het jagters en vuurwapen eienaars 'n moeilik paadjie om te loop. Ons passies is onder die vergrootglas en alles wat ons doen en in die publieke arena plaas, word ontleed en gebêre en verdraai om 'n sekere agenda te pas.
Ek het nie 'n youtube kanaal nie en verstaan dus nie heeltemal die waarde van 'n klomp "likes" en "followers" nie, maar uit my beperkte kennis, is dit duidelik dat jy 'n redelike gevolg en ondersteuning het. Ek aanvaar dat dit vir jou baie voordeel inhou, maar onthou asseblief ook dat dit vir jou ook verantwoordelikheid meebring. Wat jy in jou videos sê word deur baie mense aangehang, waarvan baie nog nie oor die kennis en ervaring beskik om hulle eie opinies te kan formuleer nie en dus net jou opinie slaafs gaan navolg. Pieter die persoon, is geregtig op sy opinie, al maak dit baie mense kwaad, maar Pieter die openbare figuur, het 'n verantwoordelik teenoor sy volgelinge en die breë jagters- en vuurwapeneienaar gemeenskap. Dit is ongelukkig 'n verantwoordelikheid wat nie lig gaan weeg nie.... Onthou dat ons kinders die rekening gaan kry vir die besluite wat ons tans neem. Nie net as jagters en as vuurwapen eienaars nie.
Pieter, as ek nou dit hierbo weer deurlees, dan klink dit of ek jou wil uitsonder en dit is nie my doel nie. Elkeen van ons het 'n plig teenoor onsself, ons kinders en mekaar. Kom ons probeer so verskil van mekaar, dat beide partye met eer uit die stryd kan tree en ons koppe hoog kan hou. Ons kom argumenteer die feite en nie die man of emosies nie. Kom ons argumenteer en debatteer met wedersydse respek vir mekaar, sonder om persoonlik en afbrekend te raak. En kom ons argumenteer met die wete, dat mooi, lekker en lelik, nie vir almal dieselfde is nie. Om die woorde van een van Bok van Blerk se liedjies te leen, die grootste vyand kom uit eie geledere. Ons, as die skietgemeenskap, kan nie bekostig om verdeeld te raak nie, selfs al verskil ons oor sekere aspekte.
Sterkte met jou doen en late Pieter. Ek hoop van harte dat jy eendag kan terugkyk en 'n warm gevoel kry oor jou nalantenskap aan die skietgemeenskap. Ek is te oud, te dik en bewe te veel om oor winkel poppe en vanuit buitebande te skiet, maar ek hoop ons loop mekaar eendag raak waar ons lekker kan gesels oor al die dinge.
Beste wense en groete
Jou mede-jagter
Sent from my iPhone using Tapatalk


