http://landbou.com/nuus/deurbraak-vir-o ... roofdiere/
Te danke aan befondsing kan ’n wetenskaplike bestekopname oor roofdiere aan die gang kom.
In wat as ’n deurbraak beskou word hoe om roofdiere wat jaarliks miljoene rand se skade in die veebedryf veroorsaak beter te bestuur, het die Departement van Omgewingsake sowat R1 miljoen beskikbaar gestel vir ’n wetenskaplike bestekopname.
Die opname, wat sowat R2 miljoen sal kos en onder leiding van prof. Graham Kerley van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Sentrum vir Afrikabewaring en -ekologie aangepak sal word, se bevindinge behoort binne twee jaar bekend wees.
Besonderhede van die opname is verlede week, tydens die Nasionale Wolkwekers-vereniging (NWKV) se kongres in Port Elizabeth, bekend gemaak. Dr. Gerhard Verdoorn, onafhanklike raadgewer van die Predasiebestuursforum (PMF) het die stap verwelkom.
Hy het aan Landbouweekblad gesê dat die opname wetenskaplike antwoorde sal gee wat werklik besig is om met die bevolking van roofdiere te gebeur en wat die ware impak daarvan op die veebedryf is. “Tot nou was 90% van die uitsprake rondom die kwessie emosioneel. Hopelik sal ons oor twee jaar meer objektiewe antwoorde hê.”
Jakkalse loop wyd
Verdoorn sê insette van almal wat deur roofdiere geraak word sal deur die navorsers bekom word. “Die persepsie dat jakkalse net in nasionale parke en op wildplase aanteel, is verkeerd. Hulle beweeg wyd oor groot afstande en teel oral aan. Eers, as ons al die feite het, kan die beheer van roofdiere op ’n nasionale grondslag aangepak word en die staat deel word van die dagtotdag bestuur deur die verskaffing van menslike hulpbronne en ondersteuning aan die veebedryf.”
Impak
Volgens Verdoorn is die impak van verkeerde roofdierbestuur op die omgewing enorm omdat dit ook ander ander spesies, wat nie deel van die probleem is nie, raak. “Bestryding behoort afgeskaal te word na slegs daardie enkele roofdiere wat skade aan kleinvee, grootvee of wild berokken.”
Hy sê die werk wat deur mnr. Neil Viljoen, ’n raadgewer van die NWKV gedoen is, het getoon dat indien die emosie uit predasiebestuur geneem word en die boere self verantwoordelikheid daarvoor neem, hul skade binne drie jaar, met die helfte afgeneem het.”
Jan van Riebeeck
Of daar nog oor 10 jaar steeds oor probleemdiere gepraat sal word, het Verdoorn gesê dat dit ’n saak is wat al van Jan van Riebeeck se landing in die Kaap kom. “Ek wil glo dat ons steeds daaroor sal praat, maar nie meer só bekommerd gaan wees nie, omdat hierdie oorlog gewen gaan word. As ons egter meen dat jakkalse en rooikatte heeltemal uitgewis gaan word, maak ons ’n groot fout. Met die regte aanslag sal hulle beter bestuur kan word en daar geleer word hoe om daarmee saam te leef.”
Die wetenskaplike bestekopname word deur die Departement van Landbou, Bosnou en Visserye, NWKV, Cape Wools, die Bokhaartrust en die Rooivleis-navorsing en -ontwikkelingtrust ondersteun.
Ek wonder wat hierdie gaan oplewer?
Deurbraak vir opname oor roofdiere
- Johnnie De Wet
- Hero Member

- Posts: 550
- Joined: Thu Mar 22, 2012 7:59 pm