Die pad wat jag stap in SA
Posted: Wed Jun 10, 2026 1:58 pm
Ek dink al vir lank, meer as 'n jaar, aan die onderwerp aan't hand. Ek het al 'n paar keer begin skryf en dan opgehou, sonder om te weet wat ek eintlik moet plaas. So nou gaan ek maar my gedagtes neerpen en kyk hoe dit gaan.
EDIT: Jammer, ek het begin skryf en wat net 'n paragraaf of twee moes wees, het gegroei en nou is dit weer asof ek boekdele spreek.
Voor ek te veel skryf, moet ek een ding duidelik maak. Hierdie is nie 'n lat waarmee ek boere wil slaan nie. Dis nie 'n kruisiging of 'n klagte of enigiets nie. Dis net my gedagtes, en ek kan nie dink dat ek die enigste een is nie.
Dit het begin toe ek nog jonk was. Ek was nog altyd lief vir die natuur en ek is gelukkig gewees om groot te word tussen mense wat besef het dat dinge nie sommer vanself gebeur nie. Jag was dus 'n ding waaraan ek baie blootgestel is, alhoewel my pa nie self aktief gejag het nie. Dit het ek gekry deur my beste vriend, wie se pa elke jaar 2 of 3 keer gaan jag het.
Ek was seker rondom 13 jaar oud toe ek die eerste keer regtig gaan jag het. Soos ek dit onthou, die plaas op die Zimbabwe-grens reg op die Limpoporivier. Die plaas was so 1,200 Hektaar en vir my was die absoluut massief. Daar was so te sê geen kampe in die plaas nie, en selfs die grensdrade was nutteloos. Wild het vry beweeg waar hulle wou wees, en dit het die ervaring op die plaas bitter lekker gemaak.
Ek en 'n vriend het gereeld met sy pa se .303 gaan stap op die plaas om iets te soek. Ons het nooit alleen iets gekry nie. Dit was 'n ander tyd, ons was verantwoordelik genoeg om met die geweer vertrou te word en daar is nie vrae gevra nie. Daar was nie plaaseienaars in Cruisers wat ons rondgery het nie, daar was nie 'n gids wat ons vertel het wat en wanneer om te skiet nie, niks. Ons moes self soek. Dit het iets in my ontwaak wat ek vandag nog soek, en nêrens anders kan vind nie. 'n Sin van verantwoordelikheid oor die natuur, wat verdwyn as 'n gids of 'n boer voor jou uitstap en jou prooi vir jou vind en uitwys.
Ek het op 'n stadium in die rivierloop gesit, en daar was koedoes wat deur die rivier gestap het. Ek onthou hoe ek seker gemaak het die .303 is veilig, want daar was nie begroot vir 'n koedoe deur my pa nie (rooibokooi was op die spyskaart). Ek het die geweer op 'n grensdraad, wat 'n gewone 5-draad beesdraad was, neergesit. Die kruishaar van die Leupold 3-9x40 het vasgesuig op die pragtige koedoebul se blad, toe weer op sy kuiltjie, toe presies tussen die oë toe hy my hoor of ruik en vir my kyk. Skaars 30 tree weg. Net daar het 'n liefde vir koedoes ook ontstaan en tot vandag toe het ek nog nie een gejag nie (begroting laat nogsteeds nie toe nie).
Elkgeval, dis hoe ons gejag het. Partykeer net ek en my vriend. Partykeer sy pa saam met ons. Partykeer iemand anders. So het die jare aangegaan tot ek so paar jaar later my eerste kans gekry het om 'n rooibokooi te klits met 'n .243, met Highland AX ammunisie.
Die gogga het gebyt en ek het probeer om elke jaar te gaan jag. Ek het dit meestal reggekry. Ek het my toegewyde jagterstatus behaal met volpunte, en my skieteksamen ook met volpunte geslaag. Ek het kanse gesoek om die bosveld te kom, al het ek nie geld om te skiet nie. Vele male het ek al vir boere gevra of ek net kan gaan stap, geweer in die hand (vir veiligheid), maar ek het geen planne om iets te skiet nie (want daar is nie geld nie). Na die kinders gebore is, na ek my werk verloor het tydens COVID, en weer retrench is so amper 3 jaar terug, is daar nie geld vir jag nie. Nie soos ek dit ken nie.
Ek praat van jag. Daar is net 'n bakkie wat die karkas gaan laai. Die karkas wat klaar gesny en gebloei is, en so gedraai is dat die bloed kan uitloop. 'n Bakkie wat net een persoon gery het. Hy het ons nie gaan aflaai nie, hy het ons nie rondgery nie. Ons het gestap. Vroegoggend, nog terwyl dit donker was, is ons wakker gemaak met 'n beker Ricoffy en twee stukke beskuit in die hand. Dit was 'n vinnige ontbyt. Die vuur van gisteraand was nog warm en gebruik om die water te kook. Lemoene en dalk 'n granola bar is in die sak gedruk met 'n groot waterbottel, en dit was dit.
Dan het ons gestap. Vinnig, want die son kom, en ons moet in die veld wees met die windrigting reg voor die bokke wakker word. Dan moes ons doodstil wees. Ons het nie gebad met seep en hare gewas nie, want die bokke sou dit ruik. Ons het ons mees camo-agtige klere aangehad, anders sou die bokke ons sien. Ons het gestap tot ons bokke gesien, gehoor, geruik of gespoor het. As 'n bok gevind is, watookal die veld vir jou gee op die dag, is die skootplasing gedoen. Altyd bladskote, kopskote was vreemd. As die impak bevestig is, het ons gaan sit, 'n lemoen geskil en gewag dat die bok gaan lê. Dit was respekvol. Natuurlik. Reg. Dit, dit was JAG.
Vandag wil ek weer so jag. Ek wil dit vir my seuns wys. Ek wil hulle daardie onuitbluslike liefde vir die veld wys - of jy nou wil 'n bok skiet of nie. Ek hoef dit nie vir hulle te leer nie, die veld sal dit doen. Natuur saam met 'n innige liefde vir God, wat dit vir ons geskep het.
Ek soek na sulke plase, maar ek is bang. Eerstens, lyk dit of selfsorg soos ons geken het, weg is. Nou is verblyf in hotelle. Jy slaap in so wit bed met 'n aircon in die kamer, kos word 3 keer per dag vir jou gemaak. Jou bed word vir jou opgemaak, en jou kamer elke dag skoongemaak. Jy kan kies wat jy wil eet van 'n spyskaart af. Jy word rondgery op 'n pragtige mooi Cruiser en afgelaai waar die bokke met die drone gesien is, afhangend van wat jy wil skiet. Daar is watergate en voerkolle en paaie wat jy met 'n Ferarri kan ry. As jy dan afgelaai word is daar 'n gids wat saam met jou stap en hy loop voor jou uit. Hy soek nie die bokke nie, hy weet waar hulle sal wees in hierdie kamp waarin jy beweeg. Dan sien hy die bokke, hy sê vir jou jy moet jou geweer laai, hy wys vir jou die bok wat jy moet skiet, sit die skietstokke reg en al wat jy moet doen is neersit en die sneller trek.
Na die skoot hol hy na die bok toe en gryp die horings, rol hom op sy pens en sê jou jy moet nou kom sit vir 'n foto. Dan pluk hy sy rugsak oop en haal so lang kamera uit waarmee jy 'n plooi op 'n vlooi op die bok op die plaas lanksaan kan sien. Sodra die foto geneem is trek daardie mooi Cruiser daar in, die bok word opgewinch en afgelaai by die slagpale. Daar kry jy skaars kans om na jou bok te kyk. Jy kan nie eintlik sien waar die skoot in is, hoe die organe lyk, ensovoorts nie, want binne 3 minute is die bok afgeslag, skoongewas en in die koelkamer. Dan staan die boer daar met biere en brandewyne en shooters vir almal en grappies word gemaak. Daar is geen respek vir die dier wat dood is nie.
Dit, dit is nie vir my jag nie.
Die ander punt wat my pla is die prys van wild. Ek onthou dat wildsvleis aansienlik goedkoper was as beesvleis. Dis deel van die rede hoekom ons gaan jag het. Biltong en droëwors was goedkoper, gesonder versnaperinge as wat jy by Checkers kon koop. Ons het die slagter geken (ek ken hom nou nog) wat die biltong en droëwors gemaak het, en ons het dit self gedroog. Ek onthou die vergelykte pryse met beesvleis, en dit was altyd BAIE goedkoper.
Vandag blyk dit nie meer die geval te wees nie. Ek het nog nooit die diesel en verblyf en daardie koste bygetel as ek die prys van die vleis uitwerk nie, want dis geld wat ek meen betaal is om in die veld te wees. Ek sal dit betaal selfs om NIE te skiet nie, want ek is lief vir die veld. Ek werk net op die prys van die bok in die koelkamer - karkasgewig. Binnegoed uit, kop, vel en pote af. Verwerking by die slaghuis was goedkoop, 'n paar rand per kilo, of jy nou maalvleis of droëwors laat maak, so dit was maklik om te bereken.
Vandag val ek op my rug as ek die prys van wild sien. Ek sien vanoggend 'n advertensie vir 'n wildveilig met rooibokke op die lys. Ooie is R2,850 stuk. Ramme is R3,950 stuk. Dit is lewendige, wakker prys op veiling. Die bokke moet nog vervoer word ook. Dit maak my dus verstaan hoekom boere vandag R15,000 vra vir 'n koedoebul, en sommer R24,000+ as dit trofeegrootte is. Vlakvarke, wat vroeër jare sommer verniet geskiet is, is R2,500. Blouwildebeeste, wat veronderstel is om goeie waarde vir geld te wees, kos sommer R7,000 of R8,000 stuk. Jy betaal magdomme geld vir misskote, jy betaal vir elke skoot wat geskiet word, jy betaal vir die gebruik van die bakkie, jy betaal vir hout, jy betaal vir die boer, jy betaal vir die gids, jy betaal vir elke bok wat afgeslag word, ens.
Op die ou end kos 'n "jag" jou 'n plaas se prys. Ek sal graag iets ordentliks wil jag as ek al daardie geld gaan spandeer, sodat ek darem 'n vrieskas kan volmaak, maar teen daardie pryse is dit eenvoudig net nie moontlik nie.
Dan hoor ek hoe mense kla dat die plase net "cater" vir die Amerikaanse jagters. Maar kyk bietjie wat Amerikaners betaal vir bokke op Suid-Afrikaanse grond. Sommer $1,000 vir 'n rooibok. $750 vir 'n vlakvark. $4,800 vir 'n trofee-grootte koedoebul (52" en groter). Dit is R129,633.66 vir 'n koedoe. Kyk, ek verstaan dat daar geld moet betaal word vir dinge, maar magtig moet dit so baie wees?
Waarnatoe is die jagindustrie in Suid Afrika oppad? Gaan ons in die rigting waar jag net 'n verskoning gaan wees om te gaan drink met jou buddies? Iets wat uitsluitlik vir die rykes gaan wees? Waar manne gaan sit om "weg te kom" van hulle vrouens en te gaan goed doodskiet want dis snaaks?
Sal daar ooit weer 'n kans wees vir iemand soos ek om op 'n plaas te gaan stap, soos voorheen? Met die vertroue van 'n boer wat nie eers kom hoor hoeveel skote jy geskiet het nie, hy aanvaar jy is eerlik? Waar ek my seuns kan vat om saam met my te stap, sonder om bekommerd te wees oor die massiewe rekening wat vir my wag elke dag wat ek langer vat om my beplande bokke te kry? Waar ek nog kan JAG maak op gesonde, natuurlike wildsvleis wat nog goedkoper uitwerk as beesvleis in die vrieskas? Waar ek my geweer kan veilig maak, onder 'n boom kan gaan sit en 'n lemoen eet terwyl ek stilletjies bid en dankie sê vir die Skepper wat hierdie voorregte vir ons gegee het?
Ek wonder maar net. Dis 'n bekommerde wonder, en ek is seker ek is nie die enigste een nie.