Vlaktewild, moet die PH 'n geweer dra?
Posted: Mon Sep 14, 2026 10:29 am
Dagsê
Deesdae word aspirant PHs blykbaar geleer dat jy nie jou kliënte se wild moet doodskiet nie, daarom dra jy verkieslik nie 'n geweer saam as vlaktewild gejag word nie. Ek neem aan daar is kliënte wat gaan weier om te betaal as jy hulle bokke doodskiet. Dit plaas die PH in 'n moeilike posisie want hy moet geld probeer maak en dis al klaar moeilik genoeg, veral as hy nie sy eie plaas het nie. Ek wil niemand opponeer nie, ook nie die PH-skole afkraak nie maar vir my is dit nogal jammer want ek glo baie diere word gekwes en dan veel later moontlik deur die kliënt doodgeskiet nadat die diere onnodig gely het.
Ek het hierdie jaar ook met die rein gedagte veld toe gegaan dat ek nie my kliënte se bokke gaan skiet nie... en dus het ek op die eerste twee jagte nie my geweer saamgedra nie. Op die plaas waar ek jag, het ek 'n goeie skietbaan ingerig met ghongs tot op 350m en alle jagters moet eers na die ghongs skiet nadat hulle hul gewere op 100m op papier getoets het.
Die eerste jagter het goed op die ghongs geskiet en dus het ek met gemoedsrus my geweer in die bakkie gelos toe ons elande bekruip het. Vyf skote later was die elandkoei nog nie dood nie, nadat die man sy laaste twee skote op 80m en 60m geskiet het. Ek het hom terug laat hardloop bakkie toe (wat seker 1.5km weg was) om ammunisie te haal terwyl ek die eland oppas. Hy moes sommer met die bakkie terug ry sover hy kon. Hy het net weer by my aangesluit toe die eland genadiglik die gees gee van al die lood in haar.
Die volgende dier op sy spyskaart was 'n sebra. Op 245m skiet hy toe die been af net bo die knie. Weer het ek nie my geweer saamgeneem nie, want dalk was die episode met die eland net 'n ongeluk. Uiteindelik het die jagter toe darem die sebra platgeskiet.
Op die volgende jag (met 'n nuwe kliënt) dra ek weer nie my geweer saam nie. Die man kwes 'n jong elandbul... 13 km later ontglip die eland ons finaal. Nooit gekry nie.
Net daar besluit ek toe, ek dra maar weer my geweer saam. Maak nie saak wie die jagter is nie. Met die volgende jag moes ek die jagter se eland doodskiet want sy skoot was heeltemal te ver agtertoe in die pens. Toe die bok wegspring en ek die skoot sien, het ek dadelik geskiet.
Op ons jag twee weke gelede het dinge ook nie glad verloop nie. 'n Pa wil sy seun 'n bok laat skiet. Ons kry 'n gemsbokbul op 152m. Die skoot tref te ver agtertoe. Daar was nie kans vir 'n opvolgskoot nie. Na ongeveer 1.5km se drafstap agter die bok aan, is hy af in n kloof in baie rowwe terrein. Ek stuur die pa en sy seun agter die bok aan. My slegte rug kan eenvoudig nie meer hardloop in ruwe terrein nie. Ek gaan terug om die bakkie te haal. Die pa en sy 14-jarige seun jaag die gemsbok toe altesaam seker 5km voordat hulle hom doodskiet. Ek haal my hoed af vir hulle, want die terrein was nie maklik nie. Gelukkig val die bok langs die plaas se noordelike grenslyn naby die pad wat teen die draad langs loop.
Ons het net by die huis gekom toe die ander twee jagters wat ook op die plaas was saam met die een eienaar arriveer. Hulle het die hele oggend gestap maar niks gekry nie. Nou wou hulle net gou 'n kort draai ry langs die Pietsrivier en in die dorings kyk vir koedoes. 'n Paar Minute later hoor ons verskeie skote. Omtrent 40 minute later kom die eienaar terug. Hulle het 'n koedoekoei geskiet maar daar is 'n storie... Die jagter het op 80m 'n kopskoot van die bakkie af probeer maar die bok se kakebeen afgeskiet. Gelukkig was die medejagter 'met sy geweer daar. Lang storie kort. Na nog drie trefskote is die bok dood maar dit lê in 'n diep kloof baie ver van enige pad. Daar is geen plaaswerkers op die plaas waar ek werk nie. Ons kon tot so 1km van die bok af ry met groot moeite. Toe moes ons maar die koedoe uitmekaar sny en stuk-stuk bakkie toe dra. Gelukkig was dit maar net 'n koedoekoei.
Ons probeer ons jagters streng kies. Ons adverteer nie. Enigiemand kan nie kom jag op Kukama nie. En tog was hierdie jaar een lang gesukkel om die bokke dood te kry. So, ek dra maar weer my geweer en as die skoot nie tref waar dit moet nie, skiet ek. Gelukkig is ek nie afhanklik van die inkomste nie en gelukkig ook nie die eienaars nie. Enige persoon wat 'n probleem daarmee het as ek sy kwesbok doodgeskiet het, sal nie weer op Kukama jag nie.
Ek weet ek sanik nou oor iets wat baie mense glad nie sal pla nie. Vir hulle is sulke gebeure blykbaar normaal. Ek het reeds 'n whatsapp van een jagter gekry wat my bedank het vir die hoogs suksesvolle jag. In my oë was dit glad nie so suksesvol nie. Die bokke is dood gemors en daar was skote deur die pens wat die binnekant van die karkas vuil gelos het... al probeer jy hoe hard om die pensmis wat oral ingedryf is deur die koeël, uit te kry.
Nou wonder ek, hoeveel keer gebeur dit in die res van SA/Suidwes en natuurlik elders in die wêreld? Hierdie was nou toevallig 'n slegte jaar vir ons. Verlede jaar het al die jagters goed geskiet. Hoe dit ook al sy. Soos genoem, dra ek maar weer my geweer saam as ons vlaktewild jag.
Mooi loop