Net weer die gedragskode wat ons onsself aan verbind as ons ons name op die lys hier: http://www.jaracal.com/viewtopic.php?f=108&t=571 sit.
Louis102 wrote:[align=center]Professionele Gedragskode - Jaracal Register vir Spesialis Roofdierjagters[/align]
Hiermee onderneem ek, om as jagter en as lid van hierdie register, welvoeglik op te tree teenoor God se skepping. My optrede moet altyd getuig van deernis en respek vir die natuur.
My woorde en dade sal die goeie naam van lede op die register en daardeur ook ons bemarkbaarheid as 'n groep, bevorder. As 'n span sal ons ook ons kliente se belange op die hart dra. Ek verbind my tot eerlike en respekvolle optrede wat insluit dat ek vertroulike inligting, van watter aard ook al, as sulks sal hanteer. Om hierdie register se goeie naam verder gestand te doen, besef ek dat die landswette wat op my as jagter van toepassing is, nie verontagsaam kan word nie.
Ek is bewus daarvan dat daar sekere minimum standaarde is wat behoorlike professionele optrede bevorder. Hierdie minimum standaarde het betrekking op my kennis en vernuf as jagter, sowel as op die toerusting in my gebruik. Ek verstaan dat elke lid van die register minstens aan hierdie minimum standaarde moet voldoen, ten einde die bemarkbaarheid en goeie naam van die lede op die register uit te bou.
Ek besef my verantwoordelikheid om behoorlik rekord te hou van my optrede. Ek is verder ook bereid om inligting by te dra vir navorsing wat ons kennis rondom roofdiere en hulle gedrag mag verryk.
Ek lê my neer by die reëls, regulasies en vereistes om deel te wees van hierdie register. Hiermee verstaan ek ook my mede-verantwoordelikheid om die regte die reëls, regulasies en vereistes vir die lede van die register in plek te kry en dat dit deel van die kultuur van die jagters op hierdie register moet word.


