Vir ouens wat nie Engels verstaan nie
18 Oktober 2018
Beste kollega
Ek word sedert gister oorval met oproepe en e-pos na aanleiding van `n sogenaamde konsepwysigingswetsontwerp op die Wet op die Beheer van Vuurwapens wat skielik landwyd op sosiale media soos `n veldbrand versprei het.
Ek wou eers agter die kap van die byl kom en die egtheid van die dokument verifieer voordat ek daarop reageer.
1. Wat is die status van hierdie konsepwetsontwerp?
Die dokument het geen regstatus nie en op sy beste is dit `n besprekingsdokument. Dus is dit nie geldig nie en ook nie deel van die standaardproses waaraan wetgewing moet voldoen nie.
2. Die Konsepwetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens
`n Eksemplaar van die “Konsepwetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens” is hier beskikbaar vir enigeen wat dit wil lees.
Die dokument voldoen inderdaad aan die formaat van `n konsepwetsontwerp en spruit waarskynlik uit die regsafdeling van die SAPD in 2017, wat bedoel was vir voorlegging aan die Minister van Polisie vir oorweging. Sommige van die voorgestelde veranderinge is drakonies van aard, om dit minste daarvan te sê.
Dit blyk dat die dokument by die SAPD uitgelek het. Ek vermoed dat dit doelbewus gedoen is om paniek onder vuurwapeneienaars te skep en om die aandag af te lei van ander belangriker sake wat die Polisie nie weet hoe om te hanteer nie. Ongelukkig is daar individue en verenigings wat hiervoor geval het, en die paniek aanvuur.
Die vrystelling van hierdie dokument is `n slu en kreatiewe manier om as `n dekmantel te dien vir groter probleme, soos:
Daar is steeds sowat 750 000 groen lisensies wat sedert 2009 geldig is;
Sowat 470 000 wit lisensies het reeds verval en is nie betyds hernu nie;
DIE SAPD se regspan het aansoek om appèl teen GOSA se tussentydse bevel gedoen, maar vir maande gebeur daar steeds niks.
3. Die verklaring deur die Voorsitter van die Portefeuljekomitee op Polisie
Mnr Francois Beukman, Voorsitter van die Portefeuljekomitee op Polisie het gistermiddag (Woensdag, 17 Oktober 2018) `n verklaring uitgereik om te bevestig dat die dokument geen regstatus het nie en ook nie op die sakelys is vir bespreking deur die portefeuljekomitee nie. `Lees mnr. Beukman se verklaring hier.
4. Die proses om `n wet te wysig
Die wysiging van enige wet moet aan `n spesifieke proses voldoen. `n Regspan stel die dokument saam en lê dit voor aan die betrokke minister vir oorweging en goedkeuring. Indien die minister dit goedkeur, word dit na die kabinet verwys vir oorweging, waarna dit na die parlementere portefeuljekomitee verwys word vir oorweging en goedkeuring.
Die portefeuljekomitee bring enige veranderinge aan die konsepwetsontwerp aan, waarna dit in die Staatskoerant gepubliseer word vir openbare kommentaar. Hierdie kommentaar word oorweeg en verdere veranderinge word aan die konsepwetsontwerp aangebring en weer deur die portefeuljekomitee bespreek. Indien die portefeuljekomitee tevrede is, word dit aan Parlement gestuur vir oorweging en goedkeuring. Eers hierna word dit aan die President gestuur vir ondertekening en promulgering. Hierdie proses kan tot ses maande duur.
Vergelyk dit met President se aankondiging in die parlement in Februarie vanjaar dat `n nuwe minimum loon in Mei in werking sou tree. Ons is reeds aan die einde van Oktober, en niks daarvan is nog gefinaliseer nie.
Die parlement gaan teen einde November in reses en heropen eers vroeg in Februarie 2019. Die Portefeuljekomitee op Polisie se werk vir die jaar is ook reeds gefinaliseer. Die voorsitter het bevestig dat hierdie konsepwetsontwerp beslis nie op die komitee se sakelys verskyn nie.
Ons verwag `n verkiesing in April 2019. Vanaf die opening van die parlement in Februarie tot die verkiesing in April, sal geen veranderinge aan wetgewing gemaak word. Nie. Al wat gaan aandag kry is om sake wat oorgestaan het af te handel voordat die parlement ontbind word voor die verkiesing.
5. Wat gaan SA Jagters nou doen?
SA Jagters hou die situasie fyn dop en sal beslis reageer op enige voorstelle vir wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens. Wees gerus dat SA Jagters hom tot die hof sal wend om beswaar te maak teen enige onbillike en onregverdige voorstelle.
SA Jagters sal ook konstruktiewe insette lewer om die Wet op die Beheer van Vuurwapens te verbeter en om te verseker dat ons ons reg behou om onsself, ons families en ons eiendom te beskerm. Ons sal rasioneel, realisties en redelik bly en nie geïntimideer word deur `n dokument wat geen regstatus het nie. SA Jagters sal sy planne om hierdie situasie te hanteer, op 3 November 2018, aan die kongres voorlê vir oorweging en goedkeuring.
6. Wat staan lede te doen?
Ontspan en bly kalm. Moenie u steur aan ander mense en hulle optrede nie. Niks sal sonder u medewete gebeur nie.
Gebruik u vuurwapen versigtig en oordeelkundig. Indien u vuurwapenlisensie verval het en u nie betyds vir hernuwing aansoek gedoen het nie, sluit die vuurwapen veilig weg in die kluis tot ons later duidelikheid oor die situasie kry.
Raai u vriende aan om by `n betroubare vereniging aan te sluit wat na hulle belange sal omsien.
7. Persverklaring
SA Jagters het `n persverklaring hieroor uitgereik. Lees hier.
http://www.sahunters.co.za/index.php/sa ... n-firearms
Vriendelike groete
Fred Camphor
HUB SA JAGTERS
Hierdie e-pos gestuur val onder die kategorie 'Communication - Head Office'. U kan u e-pos voorkeure bestuur by
http://secure.sahunters.co.za indien u 'n SA Jagters lid is en nie e-pos wil ontvang wat onder hierdie kategorie val nie.
Gebruik hierdie skakel Unsubscribe om geen verdere e-pos van SA Jagters te ontvang nie (insluitend wagwoord herstel e-posse).
SA Hunters and Game Conservation Association, P.O. Box 1952 Montana Park, Pretoria, Gauteng, 0159, South Africa,
http://www.sahunters.co.za
Lynx 300WM, Musgrave .308 Plank , BSA .303, Stevens .22, Howa .308, Musgrave .308, S&W.38 Sp, Beretta .22 Pistool, Shadow12Br Semi., BRNO 375 H&H. CZ 75 Compact, BRNO (Mod 2) .22, BRNO ZKK 270Win, CZ 243W.