Sy stem toe tot my verbasing in (sy is glad nie ‘n jagter nie). Dit is toe ook die eerste keer wat my seuntjie (amper 4) saam mag veld toe gaan.
Ek gaan eers Augustus vir myself jag en op die jag het ek vir ander mense geskiet, op die menu was ‘n Waterbok bul, Rooihartbees koei en twee blesbokke.
Ons het die Vrydag aand die binne braai en kaggel ordentlik gestook want dit was lekker koud. Vroulief het vroeg ingekruip en dit het my kans gegee om bietjie kop skoon te maak langs die vuur. Ons het ‘n baie besige tyd agter die rug en die rus en rustigheid was net die medisyne wat ons nodig gehad het.
Saterdag oggend is ons toe veld toe en nie lank nie toe kry ons die Waterbokke, ek kry toe n baie mooi 27.5 duim bul. Ons was redelik versigtig vir hoe die klein man dit gaan hanteer, maar hy het ons baie verbaas. Erg nuuskierig, maar baie opgewonde. Ek was net so opgewonde aangesien dit my eerste Waterbok bul was.

Daarna het ‘n blesbok ooi my bietjie die plaas gewys en my mooi herhinner dat ek glad nie afstand kan skat nie... Weereens het die klein man my verbaas, sommer plat op sy gat agter op die bakkie langs die bok gesit en sy smarties eet. Hy het ook baie aandagtig gekyk hoe hulle die bokke af slag.
Na ons iets gaan kry het om te eet en ek gou seker gemaak het die geweer is nog in (dis mos nooit die skut de skuld nie) is ons weer uit en het ek ‘n Rooihartbees koei geskiet.

Die wind het begin op steek en ek het besef dat die blesbokke net te ver bly en die wind te sterk waai vir my skiet vernuf. Ons besluit toe op ‘n Lechwe ooi, weereens ‘n eerste vir my.

Een van die hoogte punte van die naweek was toe my seuntjie die middag sy koelerboksie nader sleep en langs my kom sit voor die vuur en bietjie gesels oor die dag se jag. ‘n Oomblik wat ek nog vir baie jare sal koester. Dit het my ook laat terug dink aan al die kampvure wat ek en my Pa in die jag veld gedeel het. Hy vertel toe ook dat hy, Mamma en Oupa volgende jaar ook gaan bokke skiet, maar Ouma se rug gaan seer raak en ons gaan haar moet dokter toe vat.
Wat ‘n reuse voorreg is dit nie om my liefde vir jag en die natuur met my seuntjie te deel nie.
So ja, my seuntjie se eerste jag, my eerste Waterbok bul, my eerste Lechwe en met groot skaamte gesê die meeste skote wat ek nog op een bok geskiet het... Blykbaar kry ek Kwes-bok-koors. Gelukkig was die ander bokke een skoot dood skote.
Verseker een van my lekkerste jagte en die begin van ‘n nuwe instelling in ons familie.
Ps: Ek mag nou blykbaar ‘n range finder koop en Vroulief het gegaan van glad nie jag nie tot sy gaan volgende jaar haar eerste bok skiet.

Sent from my iPhone using Tapatalk
