`n Quickie bly lekker

Display your bragging rights here/ Plaas jou grotes hier.
Post Reply
Mellies
Hero Member
Hero Member
Posts: 1980
Joined: Sun Jan 18, 2015 5:32 pm

`n Quickie bly lekker

Post by Mellies »

Sniper laat weet hy het `n oop naweek in sy besige dagboek en sy bevelvoerder tuis gee ook die nodige toestemming. Ek sou aanvanklik alleen berge toe ry, maar is dankbaar dat Sniper kan saamspeel. Enige jag, met of sonder sukses is soveel lekkerder indien jy dit met iemand naby jou kan deel.
Op die spyskaart is twee jongerige swartwildebeesbulle wat uitgeskop is, blesbokke, rooiribbokke en koedoes. Ribbokke en koedoes natuurlik op oop plase in die berge.

Sonder teveel beplanning arriveer ons voor middagete op die plaas. Pak gou-gou die voertuie af en sit iets onder die hemp voor ons skietbaan toe is om roere te kyk.

Met die son wat nog relatief hoog sit en ons soveel tyd moontlik in die jagveld wil deurbring vat ons die pad, rigting swartwildes toe. Snaaks hoe bokke `wegraak` sodra hulle op `n jagter se spyskaart is. Die twee narre kry ons in `n kom, uit die parmantige suidewind, in die son, kop-om-laag waar hulle pluk-pluk aan die droë winterweiding.

Aanvanklik is hulle amper 600m weg. Met `n lekker groot besembos tussen jagters en narre stap ons tot 320m van die naaste bul af. Sniper se jaggeleenthede was maar skraps die laaste paaar seisoene en ek gee hom kans om kruit te brand.

Ore toe, bipod uit, takkie voor teleskoop se lens afgebreek, laai oor, safety aan…terwyl ek ook `n video clip probeer maak gesels ek met sniper sodat beide van ons op dieselfde bul is. Daar staan hy nou mooi…wag-wag-wag…voorste bul… agter… hy staan nou sleg…wag tot hy oop is. En so hou dit aan…

Met baie oortuiging en moeite kry Sniper al sy varkies op hok en laat vaar hy die gedagte om vir die kop te skiet. In hierdie wind is die blad al opsie. Safety af…die Weatherby Accumark stuur `n 130gr Accubond met mening na die nar se blad. Met die skoot wat nog weergalm en die `dup` as terugvoering spring Sniper se bul weg terwyl dit lyk of hy hap na die ingangswond. Twintig vininge treë later sluk die lang gras in `n donga hom in.
Ek skuif vining agter Svên (my seven-em-em-ou-yt) in…arme Frikkie wat sy GPS se charger by die huis vergeet het, kom staan 70 treë van ons af en kyk bekommerd terug na sy tjommie wat bly lê…

Ons neem `n paar kiekies van die middag se sukses en kry die karkasse by die slagplek voor tjaila-tyd.

Vrydagoggend 4:30 is ons op. As die wind SO blaas voor sonop voorspel dit nie perfekte jagweer nie. Buite dreun selfs die donderweer met mening en weerlig is orals sigbaar. Minute later is dit papnat gereën. Vreemde weer vir die winter.

Met die pers wolkbank wat by iemand anders water uitgiet, wil-wil ou Spike kom handbysit in `n poging om die kwik te laat styg, ter ondersteuning van die jagters. Bo-op die berge stap ons met `n wyyyee draai sodat die ruiter op sy windjie reg van voor is. Die eerste twee klowe het beide net ribbokke gehad. Op die buurplaas het `n alleen ribbokram uit die wind gestaan. Sy diknek met oranje jas duidelik sigbaar. Die bergbokkies bly maar mooi…

In die derde kloof lig ek my verkyker tot teen my oë en voel dit asof ek aan `n elektriese heining vat. Ek fluister vir Sniper dat ek `n wit gesig en twee skottels sien. Sniper bevestig dit is `n koedoekoei. Die Leica flikker en wys `n ses…een en `n nul. Game on.

Ons beplan `n strategie om van bo af te skiet. Koedoes en koedoes op oop plase verdwyn mos vinniger as 13 spanner uit werkswinkel. Eers terug op ons spore en dan vorentoe op `n klipbank tussen die bosse. Opgewondenheid en geduld baklei woes binne in my. Uiteindelik is dit opgewondenheid wat die oorhand kry en sleep my voete baie vinniger vorentoe as wat geduld dit sou doen. Plat op ons pense loer ons by die klipbank af. Nee, die terrein het ons gebol. Die koeie is nog vorentoe en nie reg onder ons soos voorspel nie.

Right. Ek sien drie koeie. Ek laat my nie vertel die drie aantreklike dames is op hul eis is nie. Elke boom, bos, skaduwee en klip word deurgekyk. Weer en weer en weer en…daars hy, skree ek kliphard vir myself!! Ek beduie vir Sniper ek sien diep draai, net-net bo `n besembos op `n krans oorkant ons.

Aan my regterkant is die kloof se ingang, reguit oos. Onder op die voet van die kloof gewaar ek jou wraggies nog `n klomp bokke van dieselfde soort met die draaihorings as die regvoor ons. Vir `n man met kolonie rooimiere in sy onderbroek lê Sniper al `n geruime tyd doodstil. Dit is net `n kwessie van tyd voor `n skoot gaan loop.

Ek los vir Sniper alleen en maak myself skaars. Hopelik gee ek nie sy posisie weg terwyl ek skarrel nie. Op die tweerigtingradio vertel Sniper dat daar nog bulle saam met ou Diepdraaie is. `n Mooi volwasse bul, asook `n penkop. Ek pleit by Sniper om my net `n halfuur te gee tot by die ander troppie koedoes onder in die kloof.

Voor my kan ek twee koedoekoeie uitmaak tussen die bosse. Salig en onbewus van hulle Vrydagoggend wat binne minute drasties gaan verander.
Vanuit die hoek waarteen ek sit sien ek vir Sniper, `n halfdosyn koedoekoeie en vir Diepdraai met sy twee trawante.

Dan, as gevolg van die CCI250 se vonkie wat die N560 maak brand en `n 200gr Accubond deur die Tru-Flite druk is dit een massiewe donderdreun geluid wat hardloop in die klowe. En soos dit hot dogs gereën het toe Ouboet van Orkney Snorknie se hot dog waentjie ontplof het, reën dit koedoes.
`n Mengsel van twaalf vroulike en jongdiere snol weg van die geraas af. `n Hele streep van hulle. Twee bulle beweeg staan-staan weg van Sniper af. Diepdraaie is nie saam met hulle nie.

Onder my, 310m weg, trippel die twee sigbare koeie onrustig rond.

Sniper gee terugvoering dat hy Diepdraaie platgeskiet het. Maar die ou grote het blybaar sy adrenalienpompie ingepak en is weer op die been reg vir episode twee. Sniper se varkies is weer los. Soos hy die vorige dag wou, het hy vir die kop geskiet, (ek dink hy is te ernstig en vat jag kop toe) die keel getref en in die proses klomp are verwoes en nie eintlik been getref nie. Nietemin, die man hou mooi kop en`n tweede skoot weergalm…Diepdraaie is NOU plat.

Sniper is baie verlig en oppad na sy welverdiende koedoebul. Sy geskarrel tussen die digte plantegroei veroorsaak dat die twee jonger bulle spoed optel. Ek hoop met alles binne my dat een van hulle sal onthou van `n handrem wat tot hulle beskikking is sodra hulle by die koeie aansluit. Die koeie skrik vir die bulle, die bulle skrik vir die koeie. Koedoes het seker Brahmanbloed dink ek. Hulle skrik vir mekaar, vir hulle eie ore EN spring draad vir `n grap.

Onder my is `n trop koedoes wat nou hol…hempaf. Tyd vir tel is daar nie. Svên wil nog uhm en ah toe het ek hom onder sy pens beet…en ek laat waai. Nie draf of draf-stap nie. Ek HOL `flat taps` in `n poging om die koedoes af te sny of darem te sien waarheen hulle beweeg in die volgende kloof. Svên klink soos `n baba in `n ou cruiser op sinkplaatpad soos hy skud.

Voor my gaap die kloof waarheen ons almal gehol het…daar is geen manier dat die trop ongesiens bergop is nie. Dit is net die vêr. Hulle moet erens onder my wees. Teleurgesteld (en moeg) lig ek weer die Leica en hoop ek het sekondes gelede iets gemis. Intussen laat weet Sniper hy is oppad in my rigting. Ek wou nog instruksies vir plan B deurgee toe bars die groter bul onder my uit. Sy ratkas moet baie oud wees, want hy ken net van stop en `over drive`.

Op 320m steek hy vas voor `n groot donga, swenk na regs, weg van die vlakte af. Ek lê agter Svên en moet skuif-skuif soos hy voor my verby beweeg. Op 250m (vining geskat) steek hy vas, plankdwars, neus omhoog en ore gespits…ek konsentreer, laaaag op die blad. Deur die teleskoop sien ek die regter agterbeen wat in die lug skop, kenmerkend aan `n hartskoot.

`n Paar treë verder en hy slaan letterlik gat-oor-kop met sy voorpote wat padgee onder hom. Ons (ek en Svên) het hardgewerk. Lg. kon uiteindelik sy staal wys presies waarvoor hy aangeskaf is.

Na sowat `n uur sluit Sniper by my aan, asook die laaispan. Gelukkig is daar `n pad 20m van ons af en laai die twaalf hande my bul sonder moeite.
Om `n lang storie kort te maak, Diepdraaie van Sniper lê nie naby `n pad nie. Die naaste pad is van so aard dat die karkas boontoe gesleep moet word. Nou ja, die wat al bokke moes opsny en stuk-stuk uitdra sal presies weet waarvan ek praat…die kiekies sal `n beter storie skets.
Die laaste dag is `n Rooiribbokram elk op die wenslys. Die berge en klowe voor ons het nog net beeld van 1978, slegs swart en wit. Ons kan reeds `n klompie ribbokke uitmaak op `n paar hellings en skiet elkeen ons eie rigting in.

Kort voor lank loop ek in `n jong rammetjie vas. Klein, sagte horinkies met `n mooi lyf wat ek met rus laat. Bo-op `n plato verras ek `n ooi en `n ram. Te danke aan die merino-hammels wat my posisie weggee moes ek omdraai en weer probeer. Inelkgeval het die ram ook nie mooi horings volgens my nie.

Heelwat later kom ek op `n stokou ribbokram af. Skaars 30m weg. Ek kan verkeerd wees, as ek moet raai sou ek sê dis een van Noag se bokkies. Brand maer met `n gebreekte horinkie aan die een kant. Hy draai net om en stap weg van my tot by `n klomp groterige bosse en klippe. Ek beweeg na links sodat ek in die skaduwee kan aanlê. Ek draai die Leupold VX5 na 2x vergroting en loer versigtig om die bosse voor my. Slegs oupa se blad, nek en kop is sigbaar. In dieselfde beweging sak ek op my knie en sak oupa in mekaar. As hy kon sou die bokkie my seker bedank het. Hy het 14kg uitgeslag.

Omdat die bokkie gedaan was, kon ek later sonder moeite aanlê op `n ander volwasseram wat oor biltong beskik en nie net kookvleis nie.
Op `n ander deel skiet Sniper ook `n gawe ram. Julle kan seker raai na watter deel van die bok hy gekorrel het? Die spesifieke ram het nie minder nie as 25 ooitjies by hom gehad…hyt seker kersopgesteek by `n stamhoof êrens in Afrika!

Voor sononder skiet ek ook `n blesbokram wat op 100m voor my kom staan terwyl Sniper aanjaag. Na `n paar kiekies ruil ons rolle en Sniper laat sak `n vet blesbokooi op 350m met `n bladskoot. Kiekies volg onderaan.

Met `n vleisie…
Mellies
Hero Member
Hero Member
Posts: 1980
Joined: Sun Jan 18, 2015 5:32 pm

Re: `n Quickie bly lekker

Post by Mellies »

Pics
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Mellies
Hero Member
Hero Member
Posts: 1980
Joined: Sun Jan 18, 2015 5:32 pm

Re: `n Quickie bly lekker

Post by Mellies »

Nog pics
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Mellies
Hero Member
Hero Member
Posts: 1980
Joined: Sun Jan 18, 2015 5:32 pm

Re: `n Quickie bly lekker

Post by Mellies »

Nog pics
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Mellies
Hero Member
Hero Member
Posts: 1980
Joined: Sun Jan 18, 2015 5:32 pm

Re: `n Quickie bly lekker

Post by Mellies »

Nog pics
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Mellies
Hero Member
Hero Member
Posts: 1980
Joined: Sun Jan 18, 2015 5:32 pm

Re: `n Quickie bly lekker

Post by Mellies »

Nog pics
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
User avatar
tripodmvr
Administrator
Administrator
Posts: 21608
Joined: Fri Mar 11, 2011 8:31 pm

Re: `n Quickie bly lekker

Post by tripodmvr »

Waar in die wêreld het julle gejag?
.22 Krico, Howa 223 Varminter, 243 AI Musgrave RSA, Ruger RPR 243, P14 - 7 x 64, BSA 303 Sporter, 375 H&H Musgrave, 30-06 Ruger No. 1A, Khan O/U 12br, Norinco O/U 12br
User avatar
Blitzzz
Hero Member
Hero Member
Posts: 572
Joined: Thu Feb 02, 2017 2:46 pm

Re: `n Quickie bly lekker

Post by Blitzzz »

Dis n lekker jag. Mooi geskryf en geskiet. Ek het nou lekker saam gejag met die storie.


Sent from my iPhone using Tapatalk Pro
Tikka 6.5 Creedmoor
Brno 7 x 57 Mauser
Howa 243 AI
User avatar
wynis
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 422
Joined: Mon Oct 01, 2018 7:31 am

Re: `n Quickie bly lekker

Post by wynis »

Dankie Mellies. Baie mooi geskryf en ek het myself lekker ingeleef in die jag avonture!
Geluk met die bokke, jy en sniper mag maar


Sent from my iPhone using Tapatalk
Wouter Roets
Administrator
Administrator
Posts: 7547
Joined: Wed May 19, 2010 2:06 pm

Re: `n Quickie bly lekker

Post by Wouter Roets »

Ja-nee dit was nou heel lekker so saam julle! Baie geluk aan albei julle manne.
User avatar
OupaZA
Hero Member
Hero Member
Posts: 588
Joined: Mon May 19, 2014 11:29 am

Re: `n Quickie bly lekker

Post by OupaZA »

Mooi geskryf.. was lekker om te lees!
458 Lott Heym Express Rifle
308 Tikka T3 Hunter
223Ai T3 Super Varmint
.22 LR Wins
Hoyt Element 80#
User avatar
tau
Hero Member
Hero Member
Posts: 3941
Joined: Sun Feb 21, 2010 11:07 pm

Re: `n Quickie bly lekker

Post by tau »

Mellies wrote: Thu Aug 11, 2022 8:32 pmPics
:): :): :): :): :):

Dammit dit is 'n mooi bok!!!!

Baie geluk.
Moet nooit 'n goeie storie met te veel waarheid vernietig nie!!!
The Tool from Toolbag.
Post Reply