Ons oefen al geruime tyd met my Gamo CF30, maar die kannetjie is nog hopeloos te klein om die geweer reg te kan vashou (hy is net-net langer as die windbuks). Ek het baie teikens al opgesit en hy het geduldig prober om die raad te absorbeer en toe te pas. Die teiken skiet het nie goed begin, of verloop nie. Dit is bloot te vervelig om na papier te skiet wat nie reageer nie ! Ek het begin om ysblokkies op die gras te pak sodat hy kan sien as hy raak skiet. Dit het die regte uitwerking gehad. Nadat hy gesien het hoe die ys in stukke spat elke keer as ek dit getref het, het hy begin om te konsentreer om dit ook reg te kry. En sy mogge-troffe manier om die lang geweer vas te hou het begin werk. Hy het met elke ysblok wat in stukke spat, meer selfvertroue begin kry en was meer vasberade om sy skote te maak tel. Op die ingewing van die oomblik het ek hom geroep toe daar weer ‘n swerm mossies op die grasperk gaan sit het. Hy het so gebewe toe ek die windbuks in sy hand stop en hom help om aan te lê… Na die skoot het hy amper die windbuks van hom af weg gegooi asof die ding warm was, in sy haas om die mossie te gaan optel voor my twee Jack Russels om die hoek storm en dit verorber ! Ons het ‘n foto geneem, en hy het dadelik vir Oupa gebel om die groot nuus te vertel !

Dit het my laat dink aan my eie ervaring toe ek my eerste voël geskiet het toe ek so rapsie groter as Ruben was. Ek het steeds daai ou BSF windbuks. Ek onthou dit so duidelik asof dit gister was ! Ek is baie dankbaar dat my seun en familie my passie vir skiet kan deel.

Ek het onthou dat ek nog êrens daai foto het, en het dit gaan soek ! Die foto is 32 jaar oud, ek was ses gewees.
Spanner


