Ad blocker detected: Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors. Please consider supporting us by disabling your ad blocker on our website.
Saterdag (3 Nov) vind die jaarlikse Obali veldskiet hier by Atlantis skietbaan plaas. Skuts ouer as 60 jaar neem deel in drie groepe, nl. 60 – 65 (die Tollies), 66 – 69 (die Blou Bulle) en 70 en ouer (die Dagha Boys).
Dit beloof weer 'n aangename uitstappie te wees vir grootmense!
As hierdie hittegolf egter voortduur soos ons dit nou beleef, sal die koele smelt voordat dit die teiken bereik!
Ek rappoteer later.
So het die Obali Veldskiet, soos dit amptelik bekend staan, toe aangebreek op 3 November - 'n gebeurtenis op die Wes-Kaapse skietkalender wat deur Jack Nel in 2014 geinisieer is. Dit is 'n veldskiet vir skuts bo sestig wat in drie groepe meeding. Die Tollies is die groep van 60 tot 64, die Blou Bulle is die groep van 65 tot 69 en die Dagha Boys is die groep ouer as 70.
Dit is 'n ontspanne skyfskietkompetisie waar daar nie teen tyd gejaag word om vyf skote binne 30 sekondes te skiet nie. En as jy nie kan le en skiet nie, skiet jy van 'n tafel af. Daar is vier bane. By nr. 1 skiet jy op 'n bobbejaan op 80 meter vanaf 'n wigwam in 'n staande posisie. Baan nr. 2 is 'n ghongbaan waar die ghonge op 220, 263, 302, 320 en 180 meter uitgesit is en jy skiet oor buitebande. Alle afstande is bekend, maar ek belowe jou as daardie Atlantis-wind opsteek raak dit in die middel van die dag, nag! By baan nr. 3 word blesbokteikens op 222 meter uit 'n le-posisie geskiet. Baan nr. 4 is weer ghonge op 150, 230, 290, 310 en 335 meter. Laasgenoemde word van 'n tafel af geskiet met 'n dik plastiekpyk as rus, sonder 'n agterste stut.
Vanaf 07:30 tot 08:15 kon skuts gewere inskiet en stiptelik om 08:30 het Jack die fluitjie geblaas om bymekaar te kom. Jack, 'n oudadmiraal in die vloot, vat geen nonsens nie. Almal aanvaar dit so, want hy weet wat hy doen! Hoede af en op tipiese Afrikaner, boeremanier word die seen op die dag se verrigtinge gevra. Dan word die klein glasies met sjerie gevul en elke skut kry een. Op Jack se bevel skop ons hakke teenmekaar, glasie in die linkerhand en die regterhand agter die blad.
Jack se: "Op die Ou Ballies!"
Die skuts antwoord in 'n koor: "Die Ou Ballies se dankie!"
Hierna word die reels weer deurgegaan en veiligheid word nie gevra nie, dit is verpligtend en almal besef die belangrikheid daarvan. Die 48 skuts word in vier groepe verdeel en 'n baanoffisier word aan elke groep toegewys. Lootjies word getrek om te bepaal watter groep by watter baan begin skiet. Tydens die skietsessies word 'n rooi vlag by elke skietpunt gehys. 'n Vyfde baanofisier, wat per radio met elke skietpunt verbind is, bepaal wanneer almal klaar is en die rooi vlag gestryk word. Dit word gedoen nadat alle gewere veilig gemaak is en in die sak is. Totdat die baanofisier die bevel gee, word geen geweer nou hanteer nie.
Teen 11:30 het 'n ligte windjie opgesteek wat teen 12:00 teen 20 kilometer per uur gestoot het. Dit het die manne wat nog ghonge moes skiet bietjie gepootjie. Nie die blesbokbaan nie, want die wind was reg van voor en ook nie die bobbejaanbaan nie wat dit was maar net 80 meter.
Teen 13:00 was almal klaar en het die vure reeds hoog gebrand. Met 'n glasie in die hand en 'n vleisie op die kole is daar groot verskonings gefabriseer om swak tellings te regverdig. Julle ken die storie: "As die hond nie gebollie het nie, het die haas gebollie!"
Teen 15:00 was die prysuitdeling afgehandel en kon die manne huis kry en nog die rugbytoets sien - min wetende van die groot teleurstelling wat wag!
Soos verlede jaar, het die Dagha Boys weer die bollie uit die jonger manne geskiet. Hier volg die eerste tien plekke:
1. Boertjie Bellingan – Dagha Boy
2. Henri du Toit – Dagha Boy
3. Ben Hoogenhout – Blou Bul
4. Pieter W. Vorster – Dagha Boy
5. Charles Blaauw – Tollie
6. Don Keene – Tollie
7. Nazier Jensen – Dagha Boy
8. Willem Welsh – Tollie
9. Jack Nel – Dagha Boy
10. Richard Henkel – Blou Bul.
Alle eer aan ons Hemelse Vader vir die voorreg om aan hierdie mooi sportsoort deel te neem. Hopelik sal ons weer volgende jaar optrek as ons die lewe hou.