Groot was my verbasing toe Siebert so 3 weke later by my aankom met 'n annealer wat totaal anders werk as sy eerste een en dit in Remington groen ook nog
Cbird se Annealer na ek hom uit sy netjiese verpakking gehaal het.
Siebert het werklik baie moeite gedoen en alles is met sy eie hande vervaardig en aanmekaar gesit. Selfs die raam van die masjien, van waar die metaal gebuig en gesny moet word, het hy self geteken en laat doen. Elektriese komponente is van verskeie verskaffers bestel om top kwaliteit teen die beste prys te kan kry.
Die twee wiele werk van dieselfde motor, maar draai in verskillende rigtings. Die verhouding is so uitgewerk dat wanneer die boonste wiel 'n nuwe dop optel word hy afgegooi net na die onderste wiel die dop wat in die vlam was fisies weggevat het. Die gevolg is dat die moontlikheid van 'n dop wat verbrand, omdat daar 'n blokkasie by die voer gedeelte van die doppe is grootliks, indien nie totaal, uitgesluit kan word.
Die foto wys hoe die boonste wiel 'n dop optel terwyl die onderste wiel omkom om die dop uit die vlam te vat.
Hier word die een dop uit die vlam gevat terwyl die volgende een neergesit word. Let op die digitale lesing van die motor se weerstand wat verstelbaar is.
Ek is nie doodseker wat dit is nie maar die onderste wiel het 'n kleef lagie oor wat verseker dat die dop tol terwyl die vlam op hom is. Die stoor area waar die doppe geplaas word is meer as groot genoeg om 'n 100 van die .308 Win familie doppe te kan hou, en doppe vloei foutloos soos een na die ander weggevat word. Die motor se spoed is soos meeste ander annealers verstelbaar, maar die digitale skerm wat die weerstand op die motor uitbeeld stel jou in staat om vinnig keer op keer by die regte spoed uit te kom. Ek hou byvoorbeeld daarvan om my doppe tot so 2-3mm onder die skouer te laat gloei, dus vat ek een dop wat ek met tempilaq merk en speel met die weerstand tot ek die perfekte spoed kry.
Een van my .308 Win doppe met die gloei lyn net onder die skouer.
Daai lesing skryf ek dan in my herlaai boek en kan ek keer op keer na terug gaan sonder om weer te sukkel om die regte spoed te kry of om tempilaq te gebruik.
Die vlam word aan 'n gewone "Cadac" tiepe bottel gekoppel en die vlamstuk kan op 'n eenvoudige, tog effektiewe, wyse verstel word om die perfekte hoek op die dop se nek te kry. Die voordeel van die Cadac gas vir my bo die bronne soos die Totai en soortgelyke gasbranders is dat die vlam konstant bly. In die verlede het ek na elke 100 of so doppe 'n nuwe Totai botteltjie gekoppel om seker te wees die gas druk raak nie te flou en ek sit met doppe wat nie almal aan dieselfe hitte blootgestel was nie.
Doppe wat almal dieselfde hoeveelheid hitte gekry en volgens my perfek uitgegloei is.
Ek het die eenheid nog nie lank nie maar het al oor die 400 doppe van verskillende kalibers uitgegloei sonder 'n enkele probleem. Ek het 200 doppe direk namekaar gedoen en alhoewel die wiel warm was van die vlam het die klewerigheid op die wiel en die motor steeds soos normaal gefunksioneer. Wat Siebert se planne is vir die toekoms met die anneallers wat hy maak is ek nie doodseker nie, maar ek kan wel se dat dit 'n top produk is en uit dankbaarheid vir die een wat hy vir my gemaak het skryf ek die stuk.
N.S. Hier is ou Siebert by 'n onlangse suksesvolle jagtog....
Lekker dag aan almal en vriendelike groete
Toffie


