'n Tuna bly maar altyd vir my 'n baie spesiale vis om te vang. Ek het al heelwat jonger klas tuna's gevang maar daardie werklike een-in-'n-leeftyd vis het my nog altyd ontwyk.
So kom Vrydagmiddag en ek besluit ek wil vir vroulief uitneem vir ietsie te eet. Alles verloop rustig en ons kuier lekker saam by Hartenbos se Spur....maar min het ek geweet dis waar die storie gaan begin.
Ons het pas klaar geëet en terwyl ons stap om te gaan betaal lui my selfoon. Ek antwoord en een van die vissermanne in die dorp wat vir Shawn Mey werk sê vir my dat Shawn hom sopas gebel het en gevra het hy moet my bel. Hy het nie kliënte bespreek vir Saterdag nie aangesien die voorspelling aanvanklik was dat Saterdag te winderig sou wees om see toe te gaan. Dit het egter skielik verander en dit het gelyk of Saterdag nou 'n mooi dag sou wees. Die gevolg was dat daar toe skielik baie plek op die boot was vir Saterdag. Onthou dit was nou alreeds na vyf Vrydagmiddag.
My eerste reaksie was om te sê nee jinne my mens dit gaan mos nou nooit werk op hierdie kort kennisgewing nie. Die kop was gelukkig onmiddellik klaar in sewende rat en ek skakel vir Shawn om te hoor van verblyf en ander reëlings. Die antwoord is daar is ekstra beddens en ons moet kóm. Wik-en-weeg die-kant-toe daardie-kant-toe. In kort teen sesuur is die besluit geneem ons gaan. Huis toe, probeer dink wat alles nodig is, pak en half-agt Vrydagaand tel ek vir Deon en JC in Danabaai op. So kort duskant half-elf stop ons in Gordonsbaai.
Kry vir Shawn en my seun (Johan/Pottie) en gesels oor die reëlings vir Saterdagoggend. Ons moet drie-uur opstaan, die boot gaan vol brandstof maak en vieruur moet ons op die water wees. Dit gesels en toe ons ons oë met 'n uitveër bykom is dit amper twee-uur Saterdagoggend
Die see is toe nie so rustig soos voorspel nie en dit gaan maar stamperig. Die pikdonker maak dit nog erger voel want die stampe kom onverwags. Later toe ons by Kaappunt verbygaan aanskou ons die pragtigste dagbreek. 'n Goeie drie-ure en 'n goeie deel van 150km of meer later is ons in die omgewing waar ons wil wees. Daars hy manne dis mos die lewe waarvoor ons gewag het. Stokke gou regkry en rapalas sleep om te sien of daar lewe in die water is. Twee stokke is sommer amper dadelik vas met skippies (Skipjacks). Stop, trek die vis en Pottie begin "chum" met "sardiens". Daar kom 'n paar merke op die visvinder maar niks wil die hoek met die stukkie sardyn gryp nie. So gaan dit aan en die skippies is volop maar die geelvinne skaars. Later kry ons 'n jong geelvin en die hoopmeter spring deur die stukkie dak of sal ek maar die regte naam sê ("canopy") wat op die boot is. Nie lank daarna nie is ek vas met iets wat voel of ek 'n trein gehak het.
Die katrol sing verwoed soos die lyn meter-en-meters in voel soos minder as sekondes afgestroop word. Dit voel verseker soos iets wat 'n nul-tot-honderd in minder as 3 sekondes kan doen. So gaan dit aan en aan en aan en aan. Dan vorentoe op die dan agtertoe, dan diekant dan daaikant. Net as ek dink ek begin wen dan word ek weer totaal verkeerd bewys. So wen ek twee meter lyn en verloor weer vytig, wat voel of dit nooit gaan ophou nie. Ek raak later bekommerd dat dit iets anders as 'n geelvin tuna moes wees en dat ek dalk 'n groot mako haai of so-iets moes gehak het. Ek wens net ek kan die vis sien maar na meer as twee ure se baklei is daar nog geen teken van hom nie. Dieselfde storie bly hom herhaal, ek kry hom nader aan die boot net om weer te sien hoe hardloop hy weer twee driehonderd meter uit met die spoed van 'n Ferrari.
Na seker so twee-en-'n-half-ure sien ek vir die eerste keer so op ongeveer honderd-en-vyftig meter iets blink in die water. Aitsa dis ten minste iets wat blink en nie bruin is nie......lyk darem nie soos 'n haai nie.
Na ongeveer drie ure begin ons hom onder die boot sien op die visvinder, 30 meter diep, voel soos 'n ewigheid, 20 meter, nog 'n ewigheid, 10 meter. Pottie spring in en gaan duik af met sy duikbril om te kyk wat dit is, hy breek die water juigend en skree dis 'n massiewe geelvin tuna. Kort daarna begin ons sy silwerlyf van die boot af sien en vir die wat 'n groot tuna se streke ken doen hy daai kenmerkende groot sirkel in die rondte.
Uiteindelik is hy aan die gaffel en Shawn het hulp nodig om die vis deur hek in die boot getrek te kry. Ek is verheug, dis my eenkeer-in-'n-leeftyd droomvis. Die vis word gou gesny agter die kantvinne om te bloei en doodgemaak. So 'n groot vis wat begin stert klap en spring op 'n boot kan nogal sports maak. Klomp foto's word geneem maar die vis is so swaar dat Pottie my moet help om hom opgetel te kry. Ons meet sy lengte en omtrek en volgens die lengte/gewig tabel weeg hy 94,35kg. My dag is gemaak en ek gee die ander manne kans om die stokke te gryp as iets vat......moet asseblief nie vir hulle sê nie maar na daai meer as drie ure se baklei was ek nie dadelik weer lus vir 'n visstok in die hande nie
Ek het die pragtigste tuna "steaks" gesny en vanaad die lekkerste tuna sashimi geëet.
Ek kan maar net vir ons Hemelse Vader baie dankie sê vir die wonderlike voorregte wat ons nog het en vir hierdie spesiale ervaring en groot geskenk wat ek uit sy natuur kon ontvang. Aan Hom al die eer, lof en aanbidding.


