Goeienaand, net vir die lekker, en vir kennisname: ek het 'n dubbelloop. 410 haelgeweertjie vir my kinders as geskenk ontvang. Dit was die eiendom van een van die ou Kaapse Engelse families en het die laaste ruk net in die kluis gestaan.
Die geweertjie is ongeveer 1924 in België gemaak, en het 51mm (2") kamers. Dit was die voorganger van die huidige. 410 2½" en 3" haelpatrone.
Ek het begin om geelkoper doppe te vorm. Dit lyk of dit gemaakte doppe kan wees wat waarskynlik op 444 Marlin afmetings gemaak is. Ek het die eerste twee afgesny tot 51mm, en daarna in my 308 se FL-matrys gedruk. Die 308 se mates by die doprand en skouer is byna identies aan die .410 2" s'n.
Die doppe pas redelik goed in die kamers. Ek het dus goeie vertroue dat hulle sal werk.
Die beskikbare inligting oor ladings is moge-troffe, en bestaan hoofsaaklik in die buiteland. Plaaslike inligting is redelik skraps maar n .410 versamelaar het my baie mooi gehelp met raad.
Dit lyk of ek met 10-13gr S265 sal regkom, en dan 124-155gr haelkorrels. Die algemene aanbeveling is vir fyner hael, bv #7 of verkieslik #8.

