Te veel vlakvarke

Post Reply
Toxxyc
Hero Member
Hero Member
Posts: 1343
Joined: Fri May 31, 2019 7:55 am

Te veel vlakvarke

Post by Toxxyc »

Ek sit maar hierdie op as 'n manier om inligting in te win, asook om bietjie te deel.

So 3 jaar terug het ek die geleentheid gekry om op die platteland te gaan bly. Die dorp het net 'n jaar en 'n half gehou, toe verkoop ek die huis en koop 'n kleinhoewe buite die dorp. Naby genoeg dat Checkers Sixty60 nog aflewer, maar ver genoeg dat ek nie ander mense hoef te hoor, sien of ruik nie. Dis stil, en die bonus is dat dit aansienlik goedkoper is as in die dorp.

Die gepaardgaande werk is gedoen op die grond, beveiliging is gedoen en alles, maar die grond self is redelik onbewerk. Hier is 'n effense terras gebou, ek vermoed om 'n tweede woonhuis te bou deur die vorige eienaars, maar dis nooit benut nie.

Die veld is redelik ontbos, maar lantana en bankrotbos neem bietjie oor. Ek het die lantana nou al redelik teruggesny en probeer maar in toom hou, maar dis 'n helse groot werk. Die grond is maar so 5Ha groot, maar die bure se grond is ook 5Ha en staan redelik leeg op die stadium, so daar is 10Ha tussen ons twee plotte.

Verder is daar stormwaterpype en ander grond rondom ons, maar alles is wildwerend omhein, so diere beweeg nie veel daar nie. Hier by my het ek die normale - vlakhase, BAIE eekhorings, muishonde, en dan ook groter wild. Op my grond alleen het ek nou al 3 grysduikers identifiseer. 'n Groterige ram, 'n mooi middelslag ooi en dan ook 'n jongerige ooi.

Daarmee saam is hier ook redelik baie bosbokke, maar hulle trek rond. Daar is 'n mooi groot ooi wat ek gereeld sien, ten minste een keer per week. Saam met haar is daar ook 'n jong ooi wat ek sien. Dan is daar 'n baie jong rammetjie wat snaaks genoeg altyd gesien word saam met 'n middelslag ram, en dan ook 'n baie mooi uitgegroeide ram wat al mooi grys vertoon.

Die goed wat ek wel die meeste hier sien, is vlakvarke. Hier is baie. Toe ons ingetrek het het ek 'n mooi sog gesien met 'n dik pens, en twee weke later sien ek haar toe in die veld met 5 piepklein varkies. Die natuur het sy gang gegaan en kort daarna was daar net 4 varkies, waarvan 3 oorleef het en groot geword het. Op 'n stadium het ons (ek, die twee seuns en 'n ver swanger vroulief) gaan stap, en die sog is opgejaag deur die honde, en sy het besluit om te storm. Ek het haar baie baie amper met die pistool geskiet, maar sy het gestop toe sy my sien, skaars 5m van my af, gesnork, gemis en weggehardloop. Ek lyk seker maar skrikwekkend met 'n pistool in my hand, gemik op die paadjie waar sy in afgestorm het.

Ons het 'n paar maande hier gebly voor ek vir die eerste keer 'n groot beer gesien het. Of, kom ek stel dit so, ek het nie die beer gesien nie. Die son sak agter ons huis en skyn uit oor die oop veld voor die stoep. Ek het om die huis gestap, son op my rug, en al wat ek gesien het is wit flitse in die son. 'n Beer met absolute massiewe tande. Hy was by die sog met die kleintjies en ek het hulle gelos om hulle ding te doen, soos ek maar met alles hier maak.

Nou, skielik 'n jaar later, is hier nie net 'n paar varke nie. Ek het die afgelope paar maande deur die veld gestap en gesien wat die varke aan die grond doen. Die terras wat gebou is, is weg. Die muur is nog daar, maar die nie meer plat nie en alles is omgedolwe. Die veldgras het erg seergekry deur die varke se skoffel en die afgelope jaar is die gras aansienlik minder as voorheen. Ek het vinnig besef die varke is te veel, en hulle is vinnig besig om die grond te verniel.

Toe die besluit om hulle bietjie uit te dun. Ek wil natuurlik nie die klein varkies skiet nie want hulle is klein en hulle is tog oulik om voor te kyk, so ek besluit toe ek sal net die groot bere afhaal. Met die tyd langs het ek 4 groot bere hier identifiseer. Die een met die groot tande, natuurlik, is bo aan my lys. Ek het fotos van hom geneem en vir Eduard ook gestuur en hy stem saam - dis 'n meneer van 'n vark. Langs hom het ek toe ook drie ander bere identifiseer. Rondom Desember het hulle erg by die soggies draai gemaak en rof baklei in die veld, maar nooit was daar enige geleentheid om te skiet nie. Daarmee saam het ek ook lanklaas geskiet en ek het eerlikwaar my eie skietvernuf betwyfel. As ek skiet, wil ek seker wees van die skoot. Om alles te kroon, is die vorige vark wat ek geskiet het, gekwes. Ek het reg van voor gemik, op die voorkop gemik en sy het haar kop opgetel soos ek geskiet het - deur die snotboks, laag deur die bors, geen doodskoot. Dit pla my tot vandag toe, so alles was verkeerd met die varke.

Maar soos die tyd aangaan het ek op 'n stadium 13 varke tegelyk getel op die grond, en die probleem is net meer en meer belklemtoon. Ek MOET uitdun.

Afgelope Sondagmiddag het ons 'n draai gestap op die grond, en sommer die bure se grond ook besoek (met toestemming). In die ruigste stuk van die grond het ons varkies gehoor skree en dit was duidelik dat iets besig is om klein varkies baie seer te maak. Ek het eers gedink dat 'n groot luislang dalk 'n klein varkie beetgekry het, maar die skree het te lank aangehou.

Ons is huistoe en ek het besluit om dadelik my skietprobleme op te los. Ek het my geweer uitgepak, seker gemaak hy skiet soos hy moet en hom met bravade in die kluis gepak.

Die probleem is ek het jare laas op enigiets lewendig geskiet. Kort nadat ons die stad verlaat het is ek retrench, selfs nog voordat ek die eerste paaiement op ons platteland-huis betaal het. Dinge was taai, maar God voorsien, en ons het altyd kos op die tafel.

Terug na die gesprek, ek het jare laas gejag. Verder, ek wil graag my twee seuns die liefde van jag wys en leer. Soos ek geleer het. As gevolg van die retrenchment is die geld om te gaan jag nie daar nie, so ek het besluit om sommer hier te skiet en hulle deel te maak daarvan. Dis nou nie juis "jag" nie, maar dis goed genoeg vir 'n eerste keer. Die probleem is egter dat ek bitter onseker was van myself, skootplasing, ens. Ek het maar weer my skootplasings opstudeer maar dit maak my net meer seker van waar ek moet skiet - nie of ek eers dit sal regkry nie.

Daarmee saam, my oudste het 'n sagte hart en hy's lief vir diere, so ek wil hom verseker nie blootstel aan 'n kwesskoot vir sy eerste keer nie. Hy sal nooit weer met my saamkom nie. Dit is dus duidelik dat my bokkoors, my onsekerheid en alles daarmee saam dit vir my baie onaangenaam gemaak het. Dit was later so erg dat ek met my jaggeweer op 'n vark gemik het, nie eers gelaai nie, en dan kan ek nie eers die sneller trek met 'n stil kruishaar nie. En dit was nie eers gelaai nie.

Afgelope Woensdagmiddag, om 14:13, blaf die honde. Hulle blaf op 'n sekere manier vir die beeste, en op 'n sekere manier vir die sekuriteitswagte wat die bure se draad patrolleer, en dan het hulle 'n blaf vir vlakvarke teen die draad. Hierdie is 'n vlakvark-blaf.

Ek staan op en sien die sog met nuwe kleintjies, regtig KLEIN varkies, TEEN die draad, waar ek ons kombuisafval gooi. Skaars 20m van my kantoorvenster af staan hulle en sukkel om iets te ete te kry. Die rede is 'n groot beer wat die keer saam het hulle is. Hy druk die varkies af, en kom hulle by met sy linkerkantste tand, wat al stomp afgeskuur is. Regtertand is groot, links stomp. 'n Groot beer. Nie die grootste een hier nie, maar verseker die grootste beer wat ek al by was wat gejag is. My vrou is oppad van die skool af met die seuns en ek weet hulle gaan enige oomblik hier wees.

Ek sluit my kluis oop, haal my .30-06 uit, draai die knaldemper mooi styf vas en laai drie rondtes in die interne magasyn. Drie, want ek dink as ek kwes of nie mooi skiet nie, kan ek opvolg sonder om te sukkel. Ek laai nie die geweer nie, want ek wil wag vir die seuns, maar ek wil gereed wees. Ek druk die rondtes in die magasyn af en maak die slot toe op 'n leë kamer. Ek maak die venster oop en sit die geweer op die diefwering neer. Ek is gereed.

Dit voel soos 'n lang tyd, maar dis in werklikheid net sekondes. Deur die teleskoop hou ek die vark dop en ek kyk wat hy doen. Hy keer die sog van die kleintjies af weg en dan druk hy hulle af. Hy klim amper bo-op die klein varkies en dan maar hy hulle bymekaar met sy tande. Ek verstaan nie hoekom hy dit doen nie, maar hy doen. Deur die teleskoop sien ek ook 'n nat kol op sy regterblad, lyk soos 'n klier wat olie lek, maar ek dink nie veel daarvan nie.

Toe begin die varkie wat hy beetkry skree, net soos die afgelope Sondagmiddag daar in die bosse. Hy maak die goed seer. Ek is dadelik kwaad want die kleintjies het mos ook reg om daar te wees. Ek haal die geweer oor, sit 'n rondte in die kamer en lê aan. Die vark is 25m van my venster af, en die teleskoop is op 14x gestel (waar ek laas geskiet het). Daar is nie tyd vir stel nie, die varke wil bos toe, die een kleintjie begin al wegbeweeg en ek weet dan volg die res. Die kruishaar sit vas op die blad maar die beer is besig. Dan is hy agter die boom, dan is hy voor 'n klein varkie, dan druk hy die sog weg, ek het nie 'n skoot nie.

Sy nadeel, my voordeel, hy is kop en skouers hoër as enige van die kleintjies. En ek sien dit. Ek trek toe die kruishaar na die kop toe, maar hy is so danig met die kleintjies dat ek nie 'n stil oomblik kry nie. Die brein is elkgeval kleiner as die blad, maar die blad is nie 'n opsie nie. Ek gaan 'n ander vark raakskiet.

So toe fluit en nou maar vir die ding. Ek het gehoop hy gaan reguit na my toe kyk, maar tel toe net sy kop op, plankdwars. Ek mik toe maar net agter die oog en trek die sneller. Die afstand is naby en ek seg nog as ek nou bietjie hoog of laag skiet, maar nie veel saak nie. Hy het wel opgeruk net toe ek skiet en die 180gr Federdal Fusion tref hom net-net onder sy regteroog, in die oog. Deur die teleskoop is chaos. Dis net varke en beeste en stof en goete. Deur die stof sien ek egter 4 pote in die lug, stokstyf. Binne sekondes is die veld leeg, en al wat oorbly is 'n groot vlakvarkbeer wat lê. Hy doen daardie "tol in die rondte" skoppe vir so 'n minuut, maar ek het dit al baie gesien. Die liggies is uit.

Toe eers kom ek agter ek dra nog my rekenaarbril vir werk, en ek het pantoffels aan want dis mos koud. Nou moet ek vinnig dink. Mamma is amper tuis met die twee latte en ek wil darem laat dit mooi lyk vir hulle. Ek maak my geweer veilig en sit hom in die kluis. Ek bewe soos 'n riet. Adrenalien het jare laas so gepomp. Ek spring op WhatsApp en laat weet my swaer, met wie ek juis oor die varke gesels het, dat ek sopas 'n groot vark geskiet het.

Nou being realitieit terugkeer. Die vark moet bewerk word. Ek kan nie, ek het nie die gereedskap nie. Die vark moet afgeslag word - iets wat ek BAIE jare laas self gedoen het. Ek moet hom by die haak kry, maar eers fotos. Ek bewe so ek kan skaars neem. Ek sluit die hek oop en stap uit, pistool in my hand want laas keer wat ek so naby 'n vark was, wou hy my seermaak.

Na die loop in die oog is ek seker hy is plat, en ek bekyk die skade. Koeël is in net-net regs en onder van waar ek gemik het. Hy het baie beweeg, so dis verstaanbaar. Die redelike sagte Fusion het niks oopgemaak nie, en net onder die oog aan die anderkant is die uitgangsgaatjie. Die vark STINK.

Ek bekyk die skouer en sien daar is 'n gat in. Ek dog weer dis 'n klier wat so stink, maar ek ken nie kliere so nie. Maar dit STINK. Soveel so dat ek wil naar word. Ek trek pote onder hom in en rol hom op sy pens. Die vark STINK.

Na Mamma tuis is, fotos geneem is en ek bietjie asemhaal, laai ek met moeite die vark in 'n kruiwa om hom na die winch toe te stoot. Ek sukkel, die ding is swaar. En het ek al genoem hy STINK?

Ek doen die afslagwerk en drie dinge staan vir my duidelik. Eerstens, hierdie is 'n groot vark. Ek was al by vele 'n geskote oink, maar die een vat die koek. Hy is lank, breed, sy kop is groot, die een tand mooi lank. Tweedens, die vark stink. Ek weet varke stink, maar so iets het ek nog nooit geruik nie. Ek het regtig gedink ek gaan geen vleis kan gebruik nie en die hele ding net so begrawe. Die bron van die stink was die "klier". Meer hieroor later. Laastens, die vark is vet. So vet, dat sy velle los hang rondom sy lyf. Hy rol binne sy vel met al die vet.

Elkgeval, vark in die kruiwa en hy hang met boude en onderlyf buite. Hy pas nie. Ek stoot hom maar tot by die winch, maak die gat en hang hom op. Ek skil hom so mooi ek kan, maar dit lyk maar soos iemand wat 'n lemoen probeer skil met 'n bottermes. Ek bekyk die ding by die skouer en kry skrapnel agter die bladbeen, met sulke spore deur die vleis rondom die blad. Ek kan die skrapnel nie plaas nie, maar dit lyk asof iemand anders die vark probeer skiet het met 'n baie klein kaliber. Die koeël lyk asof hy opgebreek het en onder die blad ingetrek het, in stukke, en daar erg gesweer het. Die etter en maaiers het by die gate uitgestroom toe ek dit skoongespuit het, maar die res van die vleis was skoon.

Elkgeval, hy is toe slaghuis toe en daar hang hy, al 46kg op die skaal. Ek is bitter trots op my vark. Ek weet dis nie 'n koedoe of 'n buffel of watookal nie, maar magtig dit was 'n ervaring. My eie grond, my eerste "jag" in 'n baie lang tyd, en die eerste keer wat ek die prooi met die slagproses met my seuns kon deel:
https://imgur.com/a/20duCrK

Nou wil ek hulle leer van "walk en stalk", soos ek geleer het.

Hier's 'n foto van waar ek hom geklits het. Amper presies waar daardie kleintjie in die middel vir my loer:
https://imgur.com/a/q2XFw3p
User avatar
Louisdewet
Full Member
Full Member
Posts: 180
Joined: Wed Apr 29, 2020 7:19 pm

Re: Te veel vlakvarke

Post by Louisdewet »

Lekker man!
User avatar
Toyrsi
Hero Member
Hero Member
Posts: 988
Joined: Fri Jul 03, 2015 5:29 pm

Re: Te veel vlakvarke

Post by Toyrsi »

Dankie vir die lekker storie
YOU WEREN'T BORN TO JUST PAY BILLS AND DIE!
Jacques Esterhuyzen
User avatar
toelie
Hero Member
Hero Member
Posts: 926
Joined: Mon Nov 26, 2012 9:10 pm

Re: Te veel vlakvarke

Post by toelie »

Lekker gelees nou
.22LR Voere
.22LR CZ Varmint
.22-250 CZ Varmint
.22-250 Savage Vlp
.243 Kwagga Savage Vlp
.6 XC Tikka Varmint
.25-06 Ruger Nr1
.300WM Sako
.375 Ruger Howa
.50 cal voorlaaier Buckstalker
.38 Special Rossi
.9mm Glock 17
.9mm Glock 43X
User avatar
DWB
Hero Member
Hero Member
Posts: 6968
Joined: Tue Mar 08, 2011 11:48 am

Re: Te veel vlakvarke

Post by DWB »

Lekker man!
Noem my sommer Deon
7x57 - 404 Jeffery - 450 Rigby - 500 Jeffery
Overkill is underrated!
"All men die, but few men ever really live"
User avatar
Methos
Hero Member
Hero Member
Posts: 580
Joined: Tue Dec 12, 2017 4:12 pm

Re: Te veel vlakvarke

Post by Methos »

Lekker man Toxxyc!

Dankie vir die storie - het lekker gelees.

Gaan julle die vark eet? Ek persoonlik het al 2 varke weggegooi met swere waar hulle stink. Ek skiet eerder 'n ander een voor ek die kans op vrot vleis vat.

Cheers
Toxxyc
Hero Member
Hero Member
Posts: 1343
Joined: Fri May 31, 2019 7:55 am

Re: Te veel vlakvarke

Post by Toxxyc »

Hy wors salami en cabanossi en kaaswors, ja. Die seerplek is baie mooi geisoleer gewees, die res van die karkas was baie mooi skoon met geen probleme nie. Ek het die stuk en alles rondom hom net uitgesny en weggegooi.
User avatar
tripodmvr
Administrator
Administrator
Posts: 21608
Joined: Fri Mar 11, 2011 8:31 pm

Re: Te veel vlakvarke

Post by tripodmvr »

Op hoe groot grond loop daardie varke?
.22 Krico, Howa 223 Varminter, 243 AI Musgrave RSA, Ruger RPR 243, P14 - 7 x 64, BSA 303 Sporter, 375 H&H Musgrave, 30-06 Ruger No. 1A, Khan O/U 12br, Norinco O/U 12br
Toxxyc
Hero Member
Hero Member
Posts: 1343
Joined: Fri May 31, 2019 7:55 am

Re: Te veel vlakvarke

Post by Toxxyc »

tripodmvr wrote: Tue Jun 09, 2026 10:37 am Op hoe groot grond loop daardie varke?
My grond is 4.88Ha, en die bure se grond is 5Ha. Totaal aan ons kant van die teerpad is net so onder 10Ha.
User avatar
Eduard Venter
Hero Member
Hero Member
Posts: 1483
Joined: Wed Nov 26, 2014 12:40 pm

Re: Te veel vlakvarke

Post by Eduard Venter »

Dik vark daai, netjies!

Sent from my SM-G780F using Tapatalk

Post Reply