Hier volg die resultate met fotos van die afgelope naweek se 2 afsonderlike jagtogte om die GMX koeels in die veld prakties te toets.
TOETS 1: Bosveld terrein met hoer spoed en kort afstande op medium wild. Hierdie toets is deur my en Freek gedoen naby Vaalwater in die Waterberge.
Hier was die GMX se doodmaakvermoe, omklinkvermoe op n bok op kort afstande(lees hoe spoed) asook die vleisskade aspek getoets. Die kaliber gebruik was n 7x64 gelaai met 139gn Hornady GMX koeels teen n spoed van 3040ft/sek. Die spoed is baie hoog vir die toepassing in die bos, maar oop skote was hard voor gewerk en ons kon die vleisskade van n baie vinnige projektiel duidelik bestudeer.
Rooibokram geskiet op 40m (afgemeet) met die 7x64:

Die ingangswond. Skuins van voor geskiet. Voor die regterblad in en agter die linkerblad uit. Longe raakgeskiet.

Die uitgangswond. Die grootte van die uitgangswond kan duidelik vergelyk word met die herwinde koeel van die Teoretiese toets se diameter. Hierdie dui dan ook daarop dat die koeel wel vervorm het, ondanks die hoe spoed en kort trefafstand.

Hier kan duidelik gesien word dat die bok baie goed gebloei het. Met vorige toetsings is uitlatings gemaak dat n bok se borskasholte eers moet volbloei alvorens die bok n bloedspoor begin gooi. Ek wil hiermee verskil deur daarop te wys dat die eerste bloed op 4 meter vanaf die bok se staanplek gekry is. Die bloedspoor was BAIE duidelik en het so aangehou vir die volgende 20-25m wat die bok gevorder het voor hy geval het. Daar is ook baie bloed by die bok gevind na n wagtydperk van 10min voor daar nader beweeg is.



By die afslag van die bok kon daar gesien word dat die GMX geen noemenswaardige vleisskade aangerig het nie. n Totaal van minder as 500gram bladvleis is weggegooi. Verskoon asb die bloeding, die bok het n geruime tyd in die veld gele agv die feit dat die bakkie etlike kilometers ver by die jagkamp gestaan het en die bok dus lank gele en bloei het tussen die vleis en vel. Mens moet in gedagte hou dat hierdie bok op 40m teen 3040ft/sek getref is. Let asb op dat dit slegs sypeling van bloed is en nie vleisskade nie. Indien dieselfde skoot met n gewone softnose (bv PMP 150gn) geskiet was het die uitgangswond en vleisskade heelwat anders gelyk...

Die skade aan die vitals. Die bok is deur die long geskiet en op die foto kan die beduidende skade aan hierdie orgaan duidelik gesien word. Vir my is dit n goeie voorbeeld van genoegsame "vitals" skade versus minimale vleisskade.

TOETS 2: Vlakte toestande met laer spoed en langer afstande op groot vlaktewild. Hierdie toets is deur my Pa, Flip en sy goeie vried Jannie Esterhuizen gedoen naby Mcarthys Rest in die Kalahari.
Hier was die GMX se doodmaakvermoe, omklinkvermoe op n bok op lang afstande(lees minder spoed) asook die vleisskade aspek getoets. Die kaliber gebruik was n 308win gelaai met 150gn Hornady GMX koeels teen n spoed van 2600ft/sek. Die spoed is redelik laag vir die toepassing in vlaktes, maar die oopmaakvermoee van die GMXe is hier tot die uiterste beproef.
Die Gemsbok wat met die 308 platgetrek is op 210m:

Herwinde 150gn GMX koeel uit die Gemsbok. Die feit dat die koeel omgelkink het op daardie afstand teen die lae spoed bewys dat die punt baie effektief is oor n wye verskeidenheid van afstande en snelhede.



Die herwinde 150gn koeel word geweeg. Gewigretensie van 99,73% word behaal en dit spreek vanself

Die gemsbok het 30 tree ver gedraf en toe net daar neergeslaan. Die bok het baie gebloei, en dit slegs deur die ingangswond, wat vir my daarop dui dat beduidende skade aan "vitals" toegedien was. Vleisskade was minimaal, grootliks vanwee die feit dat die spoed baie laag was, maar die feit dat die GMX geen sekondere projektiele bewerkstellig nie kan nie buite rekening gelaat word nie.
GEVOLGTREKKING:
Die Hornday GMX kan ek aanbeveel met die grootste vrymoedigheid as n Premium Monolitiese jagkoeel vir bosveld sowel as vlakte toestande. Die feit dat dit oor n wye verskeidenheid van snelhede korrek vervorm tel baie punte. Ook die feit dat die koeel feitlik 100% van sy gewig behou. Vleisskade is in beide gevalle beperk tot n minimum, sonder om enige skade aan vitals in te boet. Die feit dat n rooibokram op 40m teen meer as 3000ft/sek getref is en slegs 500gram vleis verlore is is van onskatbare waarde. Ons sit dus hier met n BEKOSTIGBARE premium koeel wat 2 uiterse toetse geslaag het itv doodmaakvermoee versus vleisskade. Die biltongjagter in Suid Afrika wat deesdae n klomp geld vir wildsvleis en die voorreg om te jag moet uithaal kan hierdie koeel met n geruste hart gebruik.
Jaracal-Toetsspan Groete
Stefan Fouche



