win270 wrote:Onthou manne, die artikel deur Dr Lucas Potgieter het die inleiding:
"As mense nie bereid is om agter wild aan te loop en dit te bekruip nie, behoort hulle nie jagters genoem te word nie, skryf Lucas Potgieter in sy laaste artikel aan ons."
Bogenoemde stelling gaan nie oor korrekte taalgebruik nie - dit handel oor 'n groter saak nl.
Hoe tree 'n ware jagter op?
Dit gaan afhang van die omstandighede eerder as die metode van jag. Kyk na die volgende twee voorbeelde van 'n langafstand jagter en jou gemiddelde deursnee biltong jagter. Kom onos noem beide vir nou jagters. Na afloop van die scenario kan julle maar self besluit wie het regtig gejag.
Jagter A is 'n langafstand jagter in die sin daarvan dat hy met presisie en fyn beplanning skote neem op wild wat vir die gemiddelde biltong jagter buite bereik is. Hier is nie raaiwerk en geluk skote van toepassing nie. Hierdie tipe jagter skiet 500 na 'n 1000 skote onder gesimuleerde jag omstandighede vir een skoot in die jagveld op wild. Hy herlaai sy eie ammunisie met baie fyn noukeurigheid. Sy toerusting is van top standaard want niks minder sal goed genoeg wees nie. Alles van afstandbepalers en verkykers tot weerstasies, ballistiese masjientjies en pasgemaakte gewere wat meer tuis sou lyk in die hande van 'n militere skerpskutter. Hy ken sy geweer en sy eie handladings se trajekte op die punte van sy vingers en het die kuns om wind te lees en te verstaan bemeester. Hy identifiseer sy proodier en ook die spesifieke punt van waaraf die skoot gemaak sal word vooraf. Hy doen sy grondwerk en identifiseer die moontlike rigting waaruit die diere sal kom. Hy maak notas van die terrein en identifiseer moontlike objekte wat 'n rol kan speel soos 'n koppie wat die wind afkeer of 'n kloof wat die wind opwaarts kan dwing en hy oefen daardie scenario aanhoudend totdat hy dit sonder fout kan doen. Eers dan ag hy homself reg vir die jagveld. Dikwels op die dag van die jag moet hy klomp swaar toerusting teen koppies uitdra vir ente waar geen voertuig kan kom nie. En dan moet hy wag vir die skoot. Dikwels in die son en wind doodstil lê en wag. As alles vir hom uitwerk en die weer speel saam soos hy homself voorberei het vir die afgelope weke tot maande vir hierdie spesifieke scenario, daag sy prooidier op en kan hy sy skoot met presisie plaas soos hy so hard voor geoefen en beplan het.
Jagter B is 'n gemiddelde deursnee biltong jagter wat een of twee keer per jaar saam met sy vriende bietjie gaan jag. Hy besit slegs 'n 30-06 met 'n 3-9x40 want dit is al wat enige jagter ooit sal nodig hê, of so het al sy slim maatjies hom vertel. Hy skiet slegs die bruin boksie PMP punte want hulle bring mos die vleis huis toe net soos enige ander van die eksotiese en duur ammunisie. Van punt gewig en spoed en trajekte weet hy nie, want hoekom wil mens jou nou opsaal met sulke onnodighede. Sy geweer skiet 'n A4 papier skoot vir skoot raak op 100m en siende dat 'n bok se blad elkgeval nie kleiner is nie, is dit goed genoeg. Hoekom sal hy nou die bok in die oog wil skiet? Afstand bepalers en sulke volksvreemde goed hoort net by die fancy yanks en geen ware jagter hoort sulke goed te gebruik nie. By aankoms op die plaas stoot hy 'n lappie deur sy geweer om die olie wat hy einde van laas jaar se seisoen ingesit het voor hy die geweer in die kluis weggebere het, te verwyder. Hy skiet gou twee of drie skote en hulle lyk min of meer reg genoeg vir hom. Terug kamp toe en die fles word nader getrek vir 'n lekker kuier saam met die manne. Volgende oggend, nog taamlik olilk van die vorige aand se fles vat, gryp hy sy geweer en die boer gee hom 'n gids en daar gaan hulle veld toe. Loop en jag natuurlik, want dis mos die enigste manier hoe mens waarlik jag. Die olikheid maak dat hy nie regtig veel om hom kyk nie en loop maar net kop onderstebo in die gids se spore. Na 'n paar minute se stap stop die gids skielik en wys na 'n troppie rooibokke in die bos. Daar word so effens nader geskarrel totdat hy 'n oop skoot het en darm een van die bokke se blad kan sien. Afstand word geraai op min of meer 140m so hy gaan maar so rapsie hoog vat vir die onwis. As hy gelukkig is, maak hy 'n doodskoot en kan hy terugkeer kamp toe met 'n bok wat hy te voet gaan jag het en natuurlik moet dit gevier word met die gebruiklike fles of twee.
Jagter A het nie agter sy wild aangeloop volgens oorle Dok se definisie nie, terwyl Jagter B wel het, maar wie was regtig die waarlike jagter tussen hierdie twee? Die hartseer van die saak is dat Jagter A die meeste wind van voor kry deur mede jagters terwyl Jagter B se gedrag as normaal aanvaar word.