Ek hou nou nie eintlik van spog nie, maar ek wou darem die twee skootjies met julle deel.
Ons is 'n paar manne in die Boland wat bevoorreg is om op 'n plaas tot 1085m te kan skiet. Die wal is twee weke terug gestoot en die raam is opgesit met 'n 500mm x 500mm plaat en 'n vlag.
Die wind stoot sterker as die kruiptrekker wat die wal gestoot het en die raakskote is so ver maar min. Ek en drie van my vriende het laas Vrydag dit ons missie gemaak om die plaat te laat lui!
Al drie is hier op die Forum en skiet oor die algemeen strate beter as ek. Oom Pieter was die amptelike "spotter" nadat sy teleskoop by 900m uit verstelling uit geraak het.
Persoonlik dink ek hy wou net nie ons jong manne se moed breek nie.
Ek het aangetree met my Groen 243 Howa. Kallie met sy Howa 6mm xc en Corné met sy nuwe 243 Remington.
Ek dryf 'n 85gr Sierra hpbt @ 3170 terwyl Kallie en Corné onderskeidelik 105gr en 95 gr koeëls skiet.
Tot op 300m het ons al drie nog met ongeveer dieselfde verstellings geskiet nl. 4Moa elavasie en 3Moa vir 'n 10mph dwarswind. Kallie en Corné het effens minder vir wind gestel.
Teen 600 m was dit egter duidelik dat BC spoed klop. Nou moes ek 3 moa meer vir elavasie en wind stel as my twee kamarade. Dit het my ses skote gevat voor ek my BC kon "true" in Strelok.
Kallie en Corné het elke na 'n paar vinnige raakskote opgepak.
Toe ek eers op die plaat is kon ek 3 skote binne 45 sekondes plant. My taalgebruik het veel tewense oorgelaat en ek moes na die tyd almal aanwesig omverskoning vra.
Die 1085m baan lê in die teenoorgestelde rigting en ons het oor die pad gestap en uitgepak. Die wind was nou net mooi in die teenoorgestelde rigting en het tussen 10 en 12 mph gewissel. Die rigting het ook effens gewissel tussen 9 uur en 8 uur. Die temperatuur was 30°C en die hoogte bo seespieël 164m. Die mirage het plat geloop en daar was geen twyfel aan die rigting. Die Sierra's se 0.282 BC het ek as G1 gebruik. Vir 1085m moes ek dus 60 MOA stel vir elevasie en 16 MOA vir wind teenoor Kallie en Corné se 32 MOA vir hoogte en 8 MOA vir wind.
Asemrowend is al wat Kallie gesê het na ek my "nommers" geroep het.
Ek was buite myself toe die stof 2m kort en 2m regs van die plaat opslaan met my eerste skoot.
Met skoot twee was daar niks.
Skoot drie was regs met hoogte perfek.
Skoot vier was weer regs met selfde hoogte as drie.
Met skoot vyf was daar stof, maar nie een van ons kon roep waar dit getref het nie.
Nadat ek en Corné die video bestudeer het kon ons sien dat die plaat swaai met skoot twee en die stof op skoot vyf is waar ek die plaat op die bo-rant getref het.

